KOMPETISIES LUISTER NOU

GROOTfm 90.5 se #BlikkiesenBaadjies Winterprojek 2019 ten bate van PEN en Helpende Hand 

Altesaam 5154 blikkies kos, 1629 warm baadjies en werksbaadjies, ski-baadjies en jagbaadjies, kinderbaadjies, jasse en selfs leer baadjies, dun en dik, lank en kort en sommer splinternuwe baadjies, 1115 swart sakke vol truie en serpe, broeke en hemde, skoene en tekkies, 200 splinternuwe komberse, 170 handgebreide musse, 35 gebreide komberse, 30 sakke kos en 20 pare bedsokkies en slaapsokkies is in Mei 2018 vir GROOTfm 90.5 se #BlikkiesenBaadjies Winterprojek ten bate van PEN en  Helpende  Hand  ingesamel. 

Apteke, banke, boekhouers en begrafnisdienste, veeartse en finansiële adviseurs, karhandelaars en klerewinkels, colleges en skole, posdienste en prokureurs, rekenaarfirmas, eiendomsagente en verhuringsmaatskappye, die Voortrekkers, gewone gesinne en selfs afedelings van die stadsraad het al almal die afgelope vier jaar gehelp met hierdie reuse insameling.  

Ons haal so vanselfsprekend op ‘n koue dag ‘n warm baadjie uit die kas. ‘n Baadjie met baie ander maatjies in allerhande kleure en groottes vir ‘n variasie van geleenthede en temperature. Maar iewers is daar iemand nes ek wat nie eers een warm baadjie vir die winter het nie. Boonop kan ‘n warm wintersbaadjie iemand dag én nag warm hou – hy kan in hom slaap as dit moet en opstaan en gaan werk of skool toe stap. 

En daarom nooi GROOTfm 90.5 jou uit om in Mei 2019 saam met ons blikkies kos en warm winterbaadjies bymekaar te maak vir al ons minderbevoorregte vriende wat by een van ons vennote se opheffing- of bemagtingsprojekte ingeskakel is. 

Ons besef ‘n blikkie en baadjie,  beanie, broek of paar bootse sal nie iemand se lewe verander nie, maar wanneer hierdie geskenk aanhak by die werksaamhede van organisasies wat in verhouding ‘n pad met iemand stap, word dit ‘n kop-tot-tone warm hou, sonder om iemand in sy omstandig-hede vas te hou. 

Close Menu