• Inleiding 
  •  Kompetisie-riglyne 
  •  Reëls 
  •     Pryse   
  • Inskryfvorm  
Inleiding 

#LiedjieINNIlaai-kompetisie

 Die vermaakbedryf in Suid-Afrika is besonder erg gekniehalter deur die Covid-19-pandemie.

Tog het dit kunstenaars en liedjieskrywers gedwing om diep te delf in hul kreatiwiteit om uiting te gee aan skeppende werk van hoogstaande gehalte.

Die GROOT Ontbyt en Innibos Liedjie inni laai-kompetisie wil opkomende en gevestigde kunstenaars die kans bied om hul liedjies na die professionele arena te bring. Innibos-kunstefees wil die musikale talent van liedjieskrywers met dié kompetisie ontgin en uitstaande kreatiwiteit in die liedjieskryfkuns aanmoedig.

Amateur en professionele liedjieskrywers en musikante word uitgenooi om deel te neem. Liedjies kan in enige genre wees, en die wenner sal gekeur word deur ’n paneel suksesvolle sangers/liedjieskrywers, die programsamesteller van Innibos-kunstefees, asook verteenwoordigers van die musiekvervaardigers en die media-vennoot. Die wen-inskrywing sal professioneel vervaardig word as ’n enkelsnit, en gesing word deur ’n bekende Suid-Afrikaanse musiekkunstenaar.

 Kompetisie-riglyne 
  • Inskrywings open 15 Julie 2021 en sluit op 20 Augustus 2021.
  • GEEN LAAT INSKRYWINGS SAL AANVAAR WORD NIE.
  • E-pos die inskrywing (volledig voltooide inskryfvorm, MP3 en getikte lirieke) na mariolise@innibos.co.za.

Die wenner word op 31 Augustus 2021 aangekondig.

 Reëls 
  • Deelnemers moet 16 jaar en ouer wees.
  • Slegs een inskrywing per deelnemer.
  • E-pos jou inskrywing (volledig voltooide inskryfvorm, MP3 en getikte lirieke) na mariolise@innibos.co.za
  • Die liedjie moet jou eie en oorspronklike komposisie wees.
  • Die liedjie kan enige genre wees. 
  • Die liedjie moet in Afrikaans wees.
  • Die MP3-opname kan deur jouself of deur ’n derde party gedoen word, maar die prysgeld sal slegs aan die liedjieskrywer toegeken word.
  • Die MP3-opname hoef nie professioneel opgeneem te word nie, maar ons stel voor dat instrumentele begeleiding gebruik word (bv. kitaar of klavier). Backtracks word aanvaar. 
  • Die kriteria waarvolgens die liedjies beoordeel word, is: oorspronklikheid, inhoud, lirieke en melodie.
  • Die beoordelaars se besluit is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die organiseerder behou die reg om geen wenner aan te wys indien die inskrywings nie aan die standaard voldoen nie.
  • Pryse is nie oordraagbaar nie en kan nie vir kontant verruil word nie.
  • ’n Afsonderlike ooreenkoms sal in oorleg met die wenner aangegaan word.
  • Die besluit oor watter kunstenaar die wenliedjie sal opneem berus 100% by die beoordelaars en die voorgestelde kunstenaar se platemaatskappy.
  • Sou jou inskrywing wen, gee jy hiermee toestemming dat jy jou liedjie se “eerste opname reg” / “first recording right” teen geen verdere koste toeken aan die sanger / platemaatskappy van die beoordelaars se keuse. Die liedjie bly egter jou eiendom dus sal jy alle toekomstige inkomste wat dit mag genereer uit opvoerings, radio, TV en stroomdienste steeds ontvang d.m.v. ’n “publisher” van jou keuse.
  • Die registrasie van jou liedjie (Samro, Capasso, Sampra en Risa) en die aanstelling van ʼn uitgewer wat tantieme namens jou sal invorder, bly jou eie verantwoordelikheid. Ons sal wel aan die wenner hiermee hulp verleen indien nodig.
  • Die organiseerders behou die reg om, in samewerking met die liedjieskrywer,  veranderings aan die struktuur en/of lirieke van die liedjie aan te bring wat in die vervaardigingsproses nodig mag wees om die liedjie te verbeter.
  • Deur vir die kompetisie in te skryf, erken jy dat jy die reëls gelees het, en aanvaar.
    Pryse   
  • Die wenner se prysgeld is R10 000 kontant.
  • Die liedjie sal vervaardig en opgeneem word as ’n enkelsnit deur die bekende musiekvervaardiger Murray Lubbe van The Hit Factory in Pretoria.
  • Die liedjie sal deur die gekose kunstenaar op die hoofverhoog opgevoer word tydens die volgende Innibos-kunstefees (afhangend Covid-regulasies).
  • Innibos-kunstefees betaal die liedjieskrywer se reis- en verblyfkoste, sowel as sekere etes, vir die bogenoemde optrede.