
Ons motto was nog altyd “GROOT in die klein” geskoei op Mat.25 se “sover julle die klein dingetjies (soos ‘n broodjie of slukkie water deel) aan die geringste van mense gedoen het, het julle dit aan Jesus gedoen.” Ons wil te midde van die oorweldigende nood en binne die groter prentjie van wat werklik saak maak, nooit nalaat of moeg word om die klein dingetjies getrou met groot liefde aan te pak nie!
En daarom gaan ons hierdie jaar, in plaas van ‘n groot gesamentlike projek op een plek, soveel as moontlik mense aanspoor om elkeen op hulle unieke manier sy/haar “plek van invloed” (omgewing, werk, skool, kerk, gemeenskap) met ‘n klein (of groot) gebaar van omgee ten goede te gaan beinvloed… sodat ons uiteindelik eendag kan sê: ek het die straat of gemeenskap waar ek gewoon het, selfs die vakansieplek waar ek gaan rus het, die werkplek of kerk waar ek gedien het en die skool waarvan my kinders deel was saam met elke mens wat my pad gekruis het – beter gelos as wat ek dit/hulle gekry het #LositBeter
Francois van Rensburg
Die dames waar ek my wasgoed ingee is altyd vriendelik en behulpsaam. Die laaste keer wat ek daar was het ek R1 te min gehad en hulle gebruik nie kaartmasjiene nie. Hulle het gesê ek kan later met hulle regmaak. Op Madibadag het ek die R1 teruggevat saam met 'n paar cupcakes en pizzabroodjies om te wys hulle harde werk en positiewe houdings words raakgesien en waardeer.

Luané Janse van Rensburg
Ons Skakel- en bemarkingsbestuurder, Luané Janse van Rensburg se dogter, Nua het besluit om op te ruim nadat maatjies by hulle gespeel het en die koffietafel sodoende BETER GELOS as wat sy dit gevind het.


VDT Attorneys
As prokureursfirma maak ons vreeslik staat op koerierdienste sodat ons kliënte se transaksies spoedig kan af handel. Sonder goeie, betroubare koerierdienste kan ons nie die beste diens aan ons kliënte lewer nie. ‘n Verskeidenheid koerier-maatskappye besoek ons kantoor op ‘n daaglikse basis, soms twee of drie keer ‘n dag, en ons span ken hulle nou al op die naam en sien elke dag uit daarna om met hierdie “unsung heros” te werk. Ons wou dit vandag beter los vir die koerier-personeel wat elke dag vriendelike diens lewer. Ons het ‘n care package by mekaar gesit met ‘n koeldrank, tuisgebakte lamspastei, sjokolade, cappuccino stick en twee penne. Ons gaan die pakkies deur die loop van die dag uit deel vir elke koerier wat ons vandag, op Madibadag, besoek.






Roelien Potgieter
Roelien Potgieter, Hoofbestuurder: GROOTfm 90.5 het ‘n “playdate” vir haar dogters gehad en besluit ‘n “playdate” hoef nie altyd by die Spur te wees met roomys en melkskommels nie. ‘n Mens hoef nie altyd geld uit te haal nie – soms kan ‘n mens net jou tyd gee vir iemand. Hulle het besluit om dit BETER te los by Wollies en het met die honde gaan speel en die katte gaan vryf.

Hendri Myburgh
Hendri Myburgh, Omroeper en Die GROOT Ontbyt aanbieder het besluit om sy vrou se motor BETER te los deur die vorige aand vir haar petrol te gaan ingooi, sodat sy nie nog die volgende oggend by die petrolstasie moes stop nie.

Andri Dryer
Andri Dryer, Mediabestuurder & PS: Die GROOT Ontbyt het besluit om die winkeltrollies wat oral rondstaan, te gaan bêre.


Laura Whittaker
Laura Whittaker, Hoof, Mediadienste: Bloudruk Media het vir die karwag kaas, rolletjies en margarien gaan koop om toebroodjies mee te kan maak.

Chené Wright
Verkoopskoordineerder: Bloudruk Media, Chené Wright het dit BETER gelos vir GROOTfm 90.5 se Inhoudsbestuurder, Francois Botha met die uitleen van haar selfoonlaaier.



Elsie Bornman
Sondagoggend-aanbieder, Elsie Bornman het besluit om verskeie vrouens se hande warm te maak hierdie winter.


Lise Cloete
Lise Cloete, Verkoopskoordineerder: Die GROOT Ontbyt het besluit om die vloer BETER te los deur die vuil spatsels self op te vee.


Mariaan van der Walt
Hierdie is nie my projek, maar wel die van ons 9 jarige dogter. Ek ‘copy’ wat ek vroeer op facebook geplaas het. Vandag sit ek en Kyra... diep in gesprek oor Mandeladag. Sy besluit toe, mamma ek wil 3 maande se sakgeld vir die tannie met die baba by die robot gee. Ek sê toe nee Kyra, dis baie geld, jy kan R100 gee en ek sal R100 gee... na lang redenasie met n 9jarige. Mens oortuig nie sommer vir Kyra anders as sy haar hart op iets gesit het nie. Ek weet, want ek moes al n brood koop vir daai einste tannie met die baba. Sy haal punte aan soos, mamma hulle het dit nodiger as ek en mamma, dis net geld. Al wat ek vandag kan sê is ... lief jou my Kyra kind vir jou groot hart dat jy bereid is om jou alles vir iemand te gee wat minder as jy het. Jesus loves a cheerful giver.(Ek wil wanneer sy vir die tannie haar briefie en geld vat n foto neem. Wat ek nog kan sê is, ons kom na hierdie gesprek baie in die winkel en dan sê sy, mamma ek soek graag hierdie teddy, maar ek gaan dit eers koop wanneer ek klaar die tannie gehelp het)

Tanya de Vente-Bijker
Jongmense is die toekoms en dis belangrik om te investeer in hul lewens. Ek het 'n groep studente toegespreek oor tydsbestuur. #lositbeter


Heinrich van der Westhuizen
Heinrich van der Westhuizen, Verkoopskonsultant: Bloudruk Media het besluit om die gimnasium BETER te los deur die gewigte op die regte plekke te plaas.


Hendri Myburgh
Hendri Myburgh, Omroeper en Die GROOT Ontbyt aanbieder het die papier in die drukker vervang en dit sodoende BETER gelos vir almal in die kantoor om drukstukke te kan maak.


Sylana Brink
Bloudruk Media, Nasionale verkoopskonsultant, Sylana Brink en haar gesin het die gat in die teerpad wat nie toegegooi is na afloop van die herstel van ‘n waterpyp nie, gaan opvul en sodoende die pad vir alle motoriste BETER gelos.




Nina Strydom
Lindie Strydom se dogter, Nina het vir Tannie Betta gevra om haar "haar taal" (Tswana) te leer en wanneer ook al hulle kan, werk hulle twee 'n les in. Nina skryf die woorde foneties in haar boekie neer, soos sy dit hoor en kan onthou.


Lindie Strydom
Projekorganiseerder van GROOTfm 90.5 se gemeenskapsprojekte, Lindie Strydom het die Hennopsrivier, Centurion, onder die brug by Eindestraat BETER gelos deur al die gemors te gaan optel.


Louise-Marié Wentzel
Louise-Marié, verkoopskonsultant: Bloudruk Media het besluit om ‘n stukkie grond BETER te los in die kompleks waar sy bly.


Riva Schoeman
Riva, aanbieder van #RIVA het besluit om die skoonmakers by GROOTfm 90.5 se gebou ‘n ruskans te gee en self die wasbakke in die badkamers te gaan skrop.


Christine Henrico
Skakel- en Inhoudkoördineerder & Fotograaf van GROOTfm 90.5 het die waterhouer van die koffiemasjien volgemaak en sodoende die koffiemasjien BETER gelos vir almal wat op ‘n koue wintersoggend koffie wou drink.


Izaan Steenkamp
Inhoudsbestuurder van Die GROOT Ontbyt het vir hulle tuinier en huishulp ‘n warmwatersak gekoop om sodoende koue wintersoggende vir hom BETER te maak.



Francois Botha
Inhoudsbestuurder van GROOTfm 90.5 het die las vir Lindie Strydom, Projekbestuurder by GROOTfm 90.5 ligter gemaak deur haar te help om al die sakke na haar motor te dra en het die waterbottels in die kantoor vervang.




Christo Fritz
Vloerbestuurder & Redigering vir Die GROOT Ontbyt het besluit om die Regisseur van Die GROOT Ontbyt, Etienne Janse van Rensburg se kantoor reg te pak.


Izaan Steenkamp
Inhoudsbestuurder van Die GROOT Ontbyt het besluit om die winkeltrollies wat by ons kantoorblok gestaan het, terug te stoot na die winkel oorkant die pad.


Bineke Viljoen
Mediabestuurder & Produksiekoördineerder van Die GROOT Ontbyt het besluit om haar vriendin se kombuis te gaan skoonmaak en regpak.


Ilanri Croucamp
My vriendin by die universiteit is redelik hardkoppig en sal enige item gebruik tot sy glo dit is die einde van sy leeftyd, selfs al beteken dit die item, die punt bereik waar dit heeltemal gedaan is. Dit het gebeur met haar liniaal en ek het besluit tot hier toe en nie verder nie! Ek het vir haar een van my liniale gegee en dit is nou 'n lekker grap en geterg in ons vriendekring. Dis die klein dinge in die lewe wat die meeste tel! #lositbeter


Jenny Lubbe
Jenny, Implementering: Bloudruk Media en haar seun, Ruan het besluit om die vullis langs die stoom-treinspoor in Rayton te gaan optel.



Eugenie Jacobson
Eugenie Jacobson, Nasionale Verkoopskonsultant: Bloudruk Media het besluit om vir die sekuriteitswagte in die Lynnwood area elkeen ‘n koffie en ‘n koekie te koop.


Hendri Myburgh
Hendri Myburgh, Omroeper en Die GROOT Ontbyt aanbieder het vir sy seuntjie geleer van #lositbeter en klein Marloux het besluit om sy speelgoed weg te pak om die kamer sodoende BETER te los.


Jacques Erasmus
Be My Eyes: Die app is gemaak om blinde mense te help. Blinde mense kan dit met hul stem aktiveer en as hul hulp nodig het met enige iets van kleure sien tot watter speserye hulle by hul kos moet gooi of om selfs op bottels te moet lees, dan bel die app een van die helpers en jy kan dan met live video met hulle praat en vir hulle se wat voor hulle is.

Ina Du Preez
Ina Du Preez, Admin implementering: Bloudruk Media het die deurtjie van ‘n kombuiskassie in GROOTfm se kombuis-area reggemaak, nadat dit vir maande los gelê het.


Luane Janse van Rensburg
Ons skakel- en bemarkingsbestuurder, Luané Janse van Rensburg het die asdrom in die kombuis BETER gelos.


Mikal Janse van Rensburg
Ons skakel- en bemarkingsbestuurder, Luané Janse van Rensburg se seuntjie, Mikal het besluit om sy mamma BETER TE LOS na n hele dag van garage regpak en bokse uitpak. Hy het haar verras met n skotteltjie water, haar gunsteling liedjie en toe haar voete gewas.


Theuns Meyer Kommando
Theuns Meyer Kommando in die Moot skenk maandeliks "smeer" goedjies vir Bergsig Laerskool & Saamspan Laerskool vir hul "broodjie-projek".
SILWERKROON OUETEHUIS - Theuns Meyer Kommando doen elke jaar dienslewering by Silwerkroon Ouetehuis. Ons ouer en Kommando maak heerlike soppe en broodjies en het hierdie jaar 171 Oumensies bedien. Ons beplan ook om 'n Lente-braai te reel namens die Kommando en dan weer alles te borg/verskaf. Ons borg ook kinders in ons Kommando om kampe en spesialiasiasie bytewoon wat dit nie kan bekostig nie. Ons het ook 2 "broodjie-projekte by Bergsig & Saamspan Laerskole waar ons kinders , ouers en offisiere items skenk op 'n maandelikse basis bv smeer goedjies vir toebroodjies



GROOTfm 90.5 bestuur #lositbeter
Ons stasie se hart was van die begin af “vermaak wat verskil maak” – nie net in behoeftige gemeenskappe nie, maar in die lewens van mense wat deur die luggolwe saam met ons reis elke dag. Om mense te inspireer en te mobiliseer om saam met ons ‘n stad en land te verander en uiteindelik vir ‘n volgende generasie beter te los as wat ons dit gekry het.Ons het op 18 Julie afgeskop met die #Lositbeter veldtog en almal ingenooi om vir die volgende 18 dae deel te word van ons veldtog, met die hoop om uiteindelik deur hierdie projek ‘n kultuur te vestig waar ons in die toekoms almal gereeld verras sal word deur nog ‘n geleentheid wat ons op die naam roep om iemand of iets beter te los as wat ons dit gekry het…Die bestuurspan van GROOTfm 90.5 het besluit om die inwoners van Uitkoms Versorgingsentrum te gaan verras met ‘n kuiertjie EN donuts! Ons het saam gesing, gelag, stories gedeel, drukkies uitgedeel en donuts geeet. Ons wou dit vir ‘n paar uur #beterlos vir die 54 ‘kinders’ en 22 personeel, maar elkeen van ons het daar uitgestap met die besef – Uitkoms Versorgingsentrum het dit sopas vir ONS #betergelos.
Annelie Bouwer
Annelie Bouwer en van haar vriende het vir haar verjaarsdag Kungwini Welfare organization se nuwe ouetehuis gaan oorverf. Kungwini Welfare versorg 140 verstandelik gestremde inwoners met spesiale behoeftes. Hulle het ‘n behoefte aan ‘n ouetehuis gehad aangesien daar nie ‘n plek is vir die inwoners wat 60 jaar en ouer word om heen te gaan nie. Hulle het ‘n ou kinderhuis op die perseel wat nie in gebruik is nie omskep in ’n ouetehuis waarheen 25 van hul ouer inwoners gaan skuif en dan kan hulle 25 nuwe mense in hulle ander tehuis inneem. Annelie se vriende was ongelooflik en het vol geesdrif elkeen met n verfkwas en roller opgedaag en binne 2 ure was die hele ouetehuis oorgeverf en meer senior vriendelik. Annelie bedank al haar wonderlike vriende dat hulle haar gehelp het en die idee aangegryp het sonder om te skroom. ’n Verdere GROOT dankie aan Kungwini vir die wonderlike werk wat hulle doen en dat ons kon help om die ouetehuis ’n bietjie beter te los. #lositbeter


