#DieGROOTOntbyt

Die GROOT Ontbyt is die gewilde ontbytprogram wat elke weeksoggend regstreeks vanaf 06:00 – 08:00

uitgesaai word op kykNET kanaal 144.

Die GROOT Ontbyt se inhoud behels aktuele sake, van nuus en weer, tot lighartige vermaak.

Ons kuier saam met rolspelers vanuit verskeie oorde, wat insluit geliefde kunstenaars,

sportsterre, akteurs en ander bekendes.

Maak seker jy begin jou dag met Die GROOT Ontbyt – dis immers die belangrikste maaltyd van die dag!

As jy wil saam gesels, besoek ons Facebook blad of stuur 'n WhatsApp na 0606 1717 43

Om te adverteer op Die GROOT Ontbyt, stuur ‘n epos aan roelien@bloudruk.co.za.

Aanbieders

Pierre Breytenbach

Pierre is nie ‘n vreemde gesig en persoonlikheid vir die Suid-Afrikaanse televisie-industrie en sy kykers nie. Van sepies tot aktualiteits-programme, tot advertensie-veldtogte geweef met kwinkslae en woordspeling! 

Pierre is bedrywig as akteur, stemkunstenaar, skrywer, komediant, seremoniemeester, aanbieder, natuurliefhebber en avontuur-motorfietsryer.

Gebore in Bloemfontein, drama-gegradueerde van UP, SAFTA-bekroonde komediant vir sy werk in Proesstraat, en SAFTA-genomineerde vir sy teaterwerk in “Marilyn Live”. Hy en sy vrou, Anzel, twee dogters en seun, is tans woonagtig in Pretoria. Pierre spog met hoof- en ondersteuningsrolle in meer as 20 verskillende sepies en realiteitsprogramme – wat begin het met Generations en Egoli, tot meer onlangs in Getroud met Rugby.

Oor sy passie vir die kassie het hy die volgende te sê. “Die kassie is iets wat deel is van my. Ek kan nie mooi teken of moeilike somme maak nie, maar ek is bekkig, kreatief en nuuskierig. Stories is my ding. Om dit te vertel, te gaan soek, oop te krap.

Die jaar wat televisie in Suid-Afrika begin het is ek ook gebore, so, mens kan maar eintlik sê die kassie het my gekies, nie andersom nie.” 

Jennifer Myburgh

Jennifer sê dat sy nog altyd twee drome gehad het as kind. Om die president te word en om ‘n Oscar te wen. “Ek dink beide van daai beroepe sou jou op die kassie laat beland”, sê Jennifer tong-in-die-kies. Sy is nog nie ‘n Oscar-wenner of president nie, maar wel eersdaags op die kassie! Jennifer sê dis vir haar ‘n groot voorreg om die nuwe mede-aanbieder van Die GROOT Ontbyt te wees, “want jy gaan kuier by mense in hulle huise”. Sy sê verder, “’n Loopbaan in en op televisie gaan nie oor roem of dat mense jou naam ken nie, maar oor die invloed wat jy in en op hulle lewens kan hê”. 


Jennifer het haar B-Tech Drama-graad in 2009 voltooi aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, en sedert 2009 leef sy haar droom as aktrise – wat insluit rolle op platforms van advertensies, tot televisie en teater. Haar teater-talent het haar al geneem na verhoë by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Grahamstown Arts Festival, Aardklop, die Vryfees en Innibos. Jennifer bestuur ook tans haar eie teater-maatskappy wat vertonings by skole aanbied. In 2020 verwerf sy haar graad in ‘Bachelor of Arts in International Relations’ aan die Universiteit van Suid Afrika (Unisa). Sy het ervaring as onderwyseres en navorsings-analis, maar bly haar passie vir die vermaaklikheidsbedryf haar hoofprioriteit en -dryf.

 

Jennifer se lewenslus en integriteit, intellek, passie en talente, bring ‘n ‘buffet’ van vernuwing na Die GROOT Ontbyt-etenstafel toe.

Jenna-Leigh Bilong

Jenna-Leigh Bilong glo sy is die afgelope 17 jaar – as deel van haar rol in die uitsaaiwese – “in diens van my kyker en luisteraar”. Hierdie nederige, talentvolle dame, begin haar loopbaan by ‘n gemeenskapsradiostasie in Worcester. Van jongs af is Jenna-Leigh en 'n mikrofoon groot maats. Haar ma het vir haar 'n pienk speelgoed-mikrofoon gekoop waarmee sy luidkeels op die agterstoep by haar ouma se huis in Bonnievale, die "Goeie Nuus" met die bure gedeel het. Dit het later in speel-speel radio-uitsendings ontaard en ontwikkel tot waar sy as dogtertjie agter oom Riaan Cruywagen aan nuus gelees het. Sy het op die ouderdom van 15 by ‘n gemeenskapsradio betrokke geraak en is van toe af oortuig dat uitsaaiwese die platform vir haar roeping is.

 

Sy glo dat kommunikasie haar Godgegewe gawe is, en dat televisie een van die mediums is waardeur mens die effektiefste kan kommunikeer. “Nie net speel elke buiging in jou stem ’n rol nie, maar ook elke gesigsuitdrukking en beweging. Dit skep saam die volle beeld van die berig. Daarom geniet ek televisie-uitsendings net so effe meer as radio, wat my eerste liefde is”, sê Jenna-Leigh.

 

Jenna-Leigh is ‘n familiemens. Sy verwys na haar man as haar beste vriend, met wie sy saam haar roeping uitleef. “Hy is die kalmte wat God geweet het ek sal nodig hê en die een vol wysheid wat vir my leiding bied. Die hoogtepunt van my dag is wanneer ek rustig saam met hom kan sit en gesels.” Sy is ook die mamma van twee seuns en haar hondekinders, Spencer en Lala, het ’n baie spesiale plek in haar hart en huis.

 

Jenna-Leigh voeg “goedheid en guns” by Die GROOT Ontbyt-spyskaart, “sunnyside up”!