You are currently viewing #SkryfbehoefteDrive insameling

#SkryfbehoefteDrive insameling

Deel hierdie artikel

Ons het ons #SkryfbehoefteDrive op 19 Oktober 2018 saam met @ToysforAfrica afgeskop met die @KingPrice Wêreldrekordpoging vir die langste ry potlode!  Die rekord tot nou toe was 859m en op die dag het die 1900 leerders van @LaerskoolHennopspark ongeveer 6000 potlode gebruik om ‘n 1065,77m lange potlood-lyn te pak. #ToysforAfrica het daardie 6000 potlode vir GROOTfm se projek geskenk en met #KingPrice se donasie van R50 000 kon hulle skryfbehoeftes aankoop vir die matrieks wat kort daarna hulle eindeksamens sou begin.

Op Vrydag, 30 November kon ons die skryfbehoeftes wat die afgelope maand deur vriende van GROOTfm 90.5 ingesamel is, begin sorteer en tel, verdeel en pak!  Elke potlood en pen word getel, want elkeen van die 7141 grys potlode en 1020 penne tel! Maar so ook elkeen van die 632 liniale, 512 pennesakkies, 279 uitveers, 130 skêre, 124 skerpmakers, 99 leêrs, 73 pakkies kleur potlode, 67 buisies gom, 40 gemengde pakkette met onder andere ‘n liniaal, skerpmaker, uitveer, pen, potlood en pak kleur potlode, 19 verfkwaste, 16 gekleurde penne, 14 highlighters, 12 x A5 boekies, 11 pakkies koki’s, 6 pakke uitdraaikryte EN nog bou blokkies, legkaarte, verf, stempels, sticky notes, deurskynende zip sakkies, vetkryte, krammasjiene en krammetjies, skuifspelde, wit bord penne, sakrekenaars EN nog  5 bokse vol penne, potlode en ander skryfbehoeftes wat dalk al ‘n vraestel voltooi het of ‘n prentjie ingekleur het!

Ons glo dat ‘n potlood en liniaal, uitveër of skerpmaker in die hand van ‘n behoeftige kind, kan ‘n sleutel wees waarmee hy sy roeping ontsluit. Dit is die eerste en basiese toerusting waarmee elke kind sy toekoms begin bou! En daarom sê ons BAIE BAIE dankie dat JY gehelp het om soveel behoeftige kinders se skoolloopbaan ‘n stewige #HOOPstoot te gee!

Deel hierdie artikel