You are currently viewing #JouMenseMyMense – Kayla Storm | GROOTfm 90.5 | 11 November 2026

#JouMenseMyMense – Kayla Storm | GROOTfm 90.5 | 11 November 2026

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense – Kayla Storm | 11 Novenver 2026  | GROOTfm 90.5

Die afgelope paar jaar het die storms oopgeloop by die Storm-gesin. Catherine en Eugene se 17-jarige dogter, Kayla, weer met Gemengde Fenotipe Leukemie (Mixed Phenotype Leukemia) en Akute B-sel Limfoblastiese Limfoom (Acute B-Cell Lymphoblastic Lymphoma) gediagnoseer – ’n aggressiewe en seldsame vorm van kanker wat dringende en intensiewe behandeling vereis. Dit volg nadat sy reeds op 15-jarige ouderdom met Gemengde Fenotipe Leukemie gediagnoseer is en ’n beenmurgoorplanting ondergaan het. Voor hierdie jongste diagnose (eers in September 2024, en toe vanjaar in Aprilmaand) was Kayla ’n gewone graad 11-leerder in ’n hoofstroomskool, met een eenvoudige droom: om, soos enige ander tiener, haar skoolloopbaan te voltooi. Ten spyte van alles waardeur sy gaan, bly hierdie droom onveranderd. Sy klou steeds vas aan haar geloof, hoop, moed en deursettingsvermoë, selfs op die moeilikste dae. Kayla het ook ’n besondere liefde vir kuns en handwerk.

Dit help haar om haar gedagtes besig te hou en bied oomblikke van vertroosting en vreugde te midde van hierdie uiters moeilike tyd. Kayla het ’n 10-jarige boetie, Kayden, wat emosioneel ook swaarkry terwyl hy moet toekyk hoe sy sussie vir haar lewe veg. Hierdie uitdagende pad het ’n diep impak op die hele gesin. Ma Catherine sê, “om te weet dat ons, nadat ons so hard baklei en soveel trane gehuil het, alles weer van voor af moet deurmaak, raak bitter, bitter moeilik. Ek voel moedeloos en moeg.” Sy kan sien haar dogter se hart is seer. Kayden en sy sussie doen baie goed saam, en hy mis haar verskriklik wanneer sy nie by die huis is nie. Hy is ’n baie skaam en liefdevolle kind, met so ’n klein hartjie. Wanneer sy sussie in die hospitaal is, sien Ma Catherine hom soggens voordat sy werk toe gaan en saans wanneer sy by die huis kom, is hy dikwels al aan die slaap.

Tans is hulle inkomste bitter min, met Pa Eugene wat ook intussen sy werk verloor het. Alles moet steeds betaal word, en dit met slegs Catherine se inkomste wat sy op kommissie verdien as ’n eiendomsagent – huur, debiet orders, kos, krag en petrol, en alles gaan net maandeliks op. Een ding is baie waar: niks staan stil omdat jy nie ’n vaste inkomste het nie. Die mediese uitgawes hoop ook al hoe meer op. Hulle het nie kos en krag in die huis nie en het van hulle meubels en Eugene se kar verkoop vir krag en kos. Hulle stuur ook sy CV gereeld uit met die hoop dat hy ’n betroubare werk kan kry.

Soos die gesin voorberei vir November, waartydens Kayla brein- en vollyfbestraling ontvang, berei haar dokter haar liggaam ook voor vir nog ’n beenmurg-oorplanting. Die gesin is dankbaar dat ’n gepaste skenker van oorsee af haar kan help. Ma Catherine noem dat Kayla ’n ongelooflike meisiekind is, ’n ware seëning wat al deur soveel moes gaan. Sy help graag ander mense en gee liefde en drukkies waar sy kan. Haar glimlag maak enige dag besonders, en haar drukkies gee hoop. She shines with grace. She is an overcomer.

Catherine se grootste wens is dat Kayla volkome gesond sal word en dat hulle nog baie tyd saam met mekaar sal hê. Sy wens dat Kayla eendag haar storie met ander sal kan deel en vir hulle inspirasie en hoop sal wees, net soos wat sy Ma Catherine elke dag inspireer en krag gee. Sy bid dat Kayla sterk in haar geloof sal bly staan, selfs wanneer dit nie maklik is nie, en dat haar storie ander mense sal help om hoop te vind wanneer hulle deur moeilike tye gaan. “Dit is net deur die Here se genade dat ons steeds staande bly.” Kayla wil bitter graag Kersfees by die huis wees en hulle bid daarvoor. Ook, 24 Januarie is sy 18 en wil graag vir haar lewe gee en dat sy kan sien die lewe en die Here IS goed.

Catherine, Kayla en Eugene het by GROOTfm 90.5 kom kuier. (Boetie moet ongelukkig sy toetse skryf.)

#gaanGROOT #GROOTverskil #Omgee #care #givingback #jouGROOTstefm

Luister HIER na die spesiale oomblik:

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

 

Deel hierdie artikel