Lucy Hammond het 5 jaar gelede haar “Plek van Geloof” begin om in die dringende behuisingsnood van behoeftige persone te voorsien. Dit het eintlik al in 2007 begin met verskillende uitreikprojekte en toe ‘n 4 jaar tydperk waar sy 3 keer ‘n week vir mense op straat kos gegee het. Sy het honger en koud soveel keer in die oë gekyk dat sy net eenvoudig begin het met 3 wendy huisies. Vandag, as jy verby haar huurhuis in Booysens ry, sien jy die woorde “Plek van Geloof” groot op die buitemuur geverf en as jy instap, groet die een na die ander vriendelike gesig jou. Eers twee ooms wat land en sand gesels in wat lyk soos ‘n tuinkamer vol plante en als wat groen is. Dan stap jy langs die huis af en ontdek nog 2 kamers, ‘n woonstel, rondawel en uiteindelik die 17 wendy huisies wat styf teen mekaar staan in die agterplaas.
Hier woon altesaam 55 mense waarvan 25 kinders en 8 bejaardes is, gesinne, enkelmammas en ‘n vrou wat sommer kort na “hallo” sal vertel hoe absoluut stukkend en teen die grond sy was voor sy en haar kind hier ‘n plekkie gevind het.
“Ek was self al daar,” sê Lucy. “Ek weet hoe dit voel om min na niks te hê en soos my ma haar laaste aartappel sou weggee as iemand vra of water sou steel sodat ons kon bad, deel en gee ek ook alles wat ek het. Dis inelkgeval net aardse goed, dit bly hier agter.”
Ons stap deur die agterplaas. Almal is trots om jou in te nooi en hulle “huis” te wys. “Hierdie een het nag skof gewerk gisteraand, hy slaap nou,” loer Tannie Babs by die wendy se oop deur in terwyl sy trots haar rol as opsigter verduidelik. Sy kyk dat alles netjies is. “Arm beteken nie vuil nie. En groenigheid beteken lewe,” sê Lucy as ons uitvra oor die potplante oral tussen die wendy’s. Ons stop by ‘n muur waar die woorde “ons almal saam is ‘n familie” met bordkryt geskryf is. “Dis Nikita wat die ander kinders leer. En kyk hier het sy geskryf ‘liefde kosmos niks.”
Nikita is een van Lucy se 3 kleinkinders wat sy groot maak na haar dogter ‘n ernstige breinbesering tydens ‘n motorongeluk opgedoen het. Haar seun is ook oorlede in ‘n motorongeluk. “Nikita sal werk vir R20 en dan Vrydag almal se R5 civvies betaal,” vertel Lucy. Sy is 9 jaar oud in Graad 5 en spog met ‘n 94% gemiddeld. “Haar ouma is kwaai,” lag Lucy, “maar jy moet weet – dis nie net sy nie! Vier van ons kinders is in hulle graad se Top 10!”
Hier gaan alles oor die kinders. Almal se kinders. Enkelmamma Chantelle se trane rol oor haar wange as sy vertel wat Lucy al vir haar en haar 3 dogtertjies beteken het. “Ek het hier gekom toe ek swanger was met my jongste. Ek het iewers flou geval en Lucy het my gehelp. Toe ek siek was, het almal na my kinders gekyk. Ek sukkel met my voet en arms wat nie eers die waslap kan uitdroog nie, maar ek moet werk kry. Vir my kinders…”
“Die kinders moet net elke dag kan eet. Al is dit vandag ‘n broodjie en more bietjie pap met soya, en hulle moet veilig wees,” sê Lucy. Haar kar is onlangs uit die erf uit gesteel nou leen haar boetie sy Corsa vir haar om die kinders skool te te vat. “Dis klein vir al die baie kinders, maar eerder so. Ons kinders kan nie oor hierdie besige straat skool toe stap nie.”
Hier is ‘n rykdom van samesyn en uitkyk vir mekaar wat ‘n sukkel om te sluk knop in jou keel laat. Lucy se hart is net om te help, veral die kinders en ou mense, en sy doen dit wat sy kan in geloof dat God vir hulle sal voorsien…
Baie dankie aan ons vriende van SPAR vir die groot skenking kruideniersware vir Lucy se “Plek van Geloof”.
Deel hierdie artikel