#JouMenseMyMense – Xandre Knoetze | 08 Julie 2026 | GROOTfm 90.5
Ons het ’n versoek van Ouma Martmari ontvang oor haar kleinseun, Xandre Knoetze, en die dringende behoefte wat hy aan ’n knievervanging het. Na die versoek het ons uitgereik na Mamma Jane-Marie, en sy het hulle storie gedeel:
Ongeveer nege en ’n half jaar gelede, op wat ’n perfekte Kersaand moes wees, het my seun se lewe in ’n oomblik onherroeplik verander. Xandré, toe vyf jaar oud met sussie twee en ’n half weke oud, het op sy pa se skoot aan die slaap geraak, en met die wakkerword en opstaan, het hy perongeluk ’n glas omgestamp. Die skielike geluid het hom laat skrik, en in daardie oomblik het hy sy klein knieg reguit in die gebreekte glas ingedruk. Van daardie dag af was sy lewe nie meer dié van ’n sorgvrye kind nie.
Met elke operasie was daar hoop, maar daar was ook terugslae met sy been wat net nie wil regkom nie. Xandre is selfs geboelie op skool as gevolg hiervan. Die enigste oplossing is ’n knievervanging. Die gesin woon in Pretoria Noord, in Jane-Marie se swaer se huis, met ’n huishouding van nege mense wat baie afhanklik is van Jane-Marie en André. Die verantwoordelikheid om vir almal te sorg is groot, en elke dag is ’n stryd om net kop bo water te hou, siende dat Jane-Marie die enigste broodwinner is, met Andre wat sy werk by Metrorail verloor het as gevolg van afleggings. Hy is aktief besig om nuwe werk te soek. Xandre droom daarvan om net weer normaal te kan beweeg, te speel en ’n lewe sonder pyn te hê.
Jane-Marie sê hulle is ongelooflik trots op die seun wat hy geword het ten spyte van alles. “Ons kan net alle eer gee aan ons Hemelse Vader. Vir byna twee jaar kom ons al met net my salaris deur. Ek weet nie altyd hoe nie… maar elke keer dra Hy ons en voorsien Hy op ’n manier wat ons nie self kan verklaar nie.”
Die Knoetzies – Pappa André, Mamma Jane-Mare, Xandré en sussie Amonique (10) het by GROOTfm 90.5 kom kuier.
#gaanGROOT #GROOTverskil #Omgee #care #givingback #jouGROOTstefm
Luister HIER na die spesiale oomblik:
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Deel hierdie artikel
