You are currently viewing #SKOOLMETDIEBESTEGEES2018 WENNERS!

#SKOOLMETDIEBESTEGEES2018 WENNERS!

Deel hierdie artikel

Op 16 Februarie 2018 het GROOTfm 90.5 en SkoleBeeld hul skoleprojek, #SKOOLMETDIEBESTEGEES vir 2018 afgeskop by Laerskool Constantiapark.

Dit is GROOTfm 90.5 en SkoleBeeld se jaarlikse projek waar 18 skole die kans kry om vir die hele Suid-Afrika te wys hoe lyk ware geesdrif, vurigheid, entoesiasme, lewenslus en positiwiteit, passie, ywer en energie, betrokkenheid, eenheid en samehorigheid of hoe ookal hulle die woordjie “gees” verstaan en wil wys!

Ons soek die onder-die-oppervlak-mooi, wat nie noodwendig die spogblaaie of podiums haal nie, in die hoop om sommer self aan te steek met ‘n gees wat ons kan terugvat na ons eie kontrei en kantoor, straat, stad en land!

Die span van GROOTfm 90.5 en Skole Beeld het in 2018 by 18 skole regstreeks van die skool af uitgesaai met ‘n bussie beman deur Johan Kruger, “mic” in Ruben Delmage se hand met sy #LEKKERmoves vir die #GAANbos liedjie, kamera in die hand van Christine Henrico, videokamera in Pieter Cloete se hand en met ‘n verhoog en die beste klank deur BarneyArmstrong, kon ons elke stukkie van die aansteeklike atmosfeer wat ons daar by die skool beleef het, weergalm en verwoord, fotografeer en deel met almal wat ons kan, oor die radio, in die koerant en op sosiale media!

Hierdie jaar het GROOTfm 90.5 en SkoleBeeld saam met hul borge, Mit-Mak MotorsMBT PetroleumLaser Adventures, USA Sports en Dr Tooth Little #GROOTpret na die skole toe geneem.

Ons het tyres geflip, ‘n morsekode ontsyfer, gekyk hoe ver hulle ‘n motor kan trek, hulle sagtebal-vaardighede getoets, oorlog verklaar met lasergewere op die rugbyveld en selfs ‘n floss-kompetisie gehou en ALLES het steeds gegaan oor gees en nie soos met soveel ander dinge oor die vinnigste, beste, hardste of sterkste nie.

En die skole het nie teruggehou nie, vir niks teruggestaan nie en hulself oortref met GEES vir hulle skool, vir mekaar en vir hul gemeenskap.

Robbie Wessels en Steve Hofmeyr het selfs saam met die Blue Bulls babes die gees na n volgende vlak geneem met die opname van n musiekvideo vir hul nuwe rugbyliedjie tydens die besoek aan een van die skole.

Daar was ‘n #GAANbos-tema waar die skool vir almal gewys het hoe hulle letterlik BOS kan gaan met #GROOTgees vir #skoolmetdiebestegees. Daar was ‘n skoolhoof op die verhoog wat die “Juicy-Wiggle-moves” net so goed soos enige van die leerlinge kon doen, daar is met hokkiestokke gedance-off, daar was ge-maggie-laggie, Flooze en Dirk van der Westhuizen se #DieTennisTune is ge-ace en daar was geen “cheezy” moves met Jan Bloukaas se #KaasBraTune by elke skool nie.

Ons het #Mcdonaldsuitdagings, dansgroepe, goed-gekoördineerde “moves”, krete, liedjies, perd- vs fietsryer kompetisies, ‘n Mnr Tinkerbell en die bekendstelling van 1ste spanne op die maat van dromslae en n doedelsak beleef. Ons het nuwe sangsensasies ontdek, ‘n bokskryt betree vir ‘n boksgeveg vir die GROOTste gees, ‘n skoolhoof geklee in n hansworspak dopgehou waar sy die skool inspireer met haar humor, n seuntjie gehoor wat sê sy gunsteling liedjie is “my bekertjie loop oor” terwyl die ander almal Katy Perry skree, gumboots-danse is gedemonstreer en gimnaste het ons soms na ons asems laat snak. Ons is selfs beïndruk met leerlinge se gees in die manier hoe hulle stilbly en luister terwyl hul hoofleiers asook skoolhoof regstreeks op die lug gesels.

Ons is vermaak op elke manier moontlik – van radio-uitsendings in ‘n skool se vierkant waar elke graad ‘n liedjie opvoer en uitbeeld tot breakdancers, ‘n trompoppie, hoola-hoopers, rappers en selfs net warm sjokolade drink op ‘n yskoue wintersoggend.

Lindie Strydom se tema vir GROOTfm 90.5 vir 2018 is breek die reëls en ons is seker die skole het iewers hiervan te hore gekom, want hulle het letterlik ALLE reëls gebreek as dit kom by die manier hoe hulle geesvang, geesbou en gees wys.

Luané Janse Van Rensburg, Groot FM 90.5 se skakel- en bemarkingsbestuurder sowel as die projekbestuurder van #SKOOLMETDIEBESTEGEES2018 het seker die gees wat ons beleef het, die beste opgesom toe sy vir die leerlinge vertel dat sy wens sy het “magic beans” gehad, want sy sal een van daardie tower-boontjies wil gebruik om terug te gaan skool toe. MAAR hierdie keer as ‘n leerling aan een van hierdie skole, want niemand moet ooit uitmis op die geleentheid om soveel hoendervleisgewende gees te beleef nie.

En ons gaskunstenaars in 2018 het #SKOOLMETDIEBESTEGEES na ‘n nog hoër vlak geneem! Dankie vir julle gees van sing Robbie Wessels, Jo Black, Leah, Willem Botha, Pieter Koen, Arno Jordaan, Jakkie Louw, Liza Bronner, Tussen Sterre, Lee Scott, Franja du Plessis, Ruan Josh, Appel, Deon Groot, Dirk van der Westhuizen, André Schwartz, Liza Bronner, Verona Goslett. Selfs Bouwer Bosch en Leandi du Randt Bosch het weekliks saam kom kuier om die leerlinge meer te vertel van hul Thys en Trix film.

#SKOOLMETDIEBESTEGEES2018 is ‘n wen-wen vir almal, want te midde van soveel uitdagings wat skole beleef, onderstreep en beklemtoon daardie oomblik in tyd wat ons met mekaar deel, die wie ons is en wie ons wil wees – dit waarvoor ons staan en waarin ons glo en watter sake in ons gemeenskap ons na aan die hart lê.

Die wen Hoër- en Laerskool is op Vrydag, 2 November 2018 aangekondig waartydens GROOTfm 90.5 en al die borge die twee wenskole gaan verras het.

Elke skool het R20 000 prysgeld ontvang asook ‘n trofee en sertifikaat as WENNER: #SKOOLMETDIEBESTEGEES2018.

Die wen Hoërskool vir 2018 is Hoërskool Noordheuwel terwyl Laerskool Monumentpark as die wenner in die Laerskool kategorie aangekondig is.

Baie, baie geluk aan hierdie twee skole!

‘n GROOT dankie aan Dr Tooth Little wat die Laerskool se prysgeld geborg het.

Dr Surine Barnes se praktyk Dr Surine Barnes en Partners het ‘n spesiale “branded” gedeelte spesifiek gerig op kinders geskep, nl. Dr Tooth Little.

Dr Tooth Little express is die bussie wat buite rondbeweeg en skole, korporatiewe maatskappye en aftree-oorde besoek – letterlik ‘n “dentist-on-the-move”.

Vir meer inligting oor Dr Tooth Little, besoek gerus http://drtoothlittle.co.za/

Ons sien uit om voort te gaan dmv hierdie skoleprojek, met vurige entoesiasme, lewenslustige positiwiteit, passievolle ywer en energie, betrokkenheid, eenheid en samehorigheid, ‘n vrolikheid en opbouende meelewendheid – met GEES – my Suid-Afrika en ons Suid-Afrika ‘n beter plek vir almal te maak!

EN DIE WEN-HOëRSKOOL vir #SKOOLMETDIEBESTEGEES2018 IS…

Laaste #gaanBOS vir 2018 by ons wen Hoërskool vir #skoolmetdiebestegees2018

EN DIE WEN-LAERSKOOL vir #SKOOLMETDIEBESTEGEES2018 IS…

Laaste #gaanBOS vir 2018 by ons wen Laerskool vir #skoolmetdiebestegees2018

Deel hierdie artikel