Die wêreldwye #16daevanaktivisme teen geweld, teen eintlik maar alle en enige mense, is jaarliks tussen 25 November en 10 Desember. Dis in hierdie tyd wat ons by die polisiemanne en -vroue van #LyttletonPolisiestasie gaan kuier het. Hulle kry soveel keer eerstehands te doen met presies dit waarteen ons opstaan. En hulle raak ook moedeloos omdat daar so baie slagoffers is en die persone wat moet help en die hulpmiddele soos plekke van veiligheid, is te min. Hulle waarneming van hoe die hoeveelheid aanmeldings van slagoffers toeneem tydens die 16 dae teenoor die res van die jaar, sê iets van ‘n veldtog wat help om die stilte te breek.
Adjudant offisier, Coenie de Beer wat betrokke is by gemeenskapmisdaadvoorkoming en sy span het besluit om met ‘n gebaar van liefde en omgee ‘n stukkie sagtheid te bring teen die hardheid en gebrokenheid van ons gemeenskap waarmee hulle dag tot dag gekonfronteer word. Hulle het met groot moeite en spesiale detail bederfpakkies vir die kinders van Ki-Deo opgemaak waarvoor ons vriende van #SPAR ‘n ruim skenking van toiletware bygedrae het. Hierdie kinders kom almal uit haglike omstandighede.
Die huisouers, Hein en Theresa Geldenhuys wou juis wegbreek van die tipiese stelsel waar kinders soos ‘n “probleem” heen en weer rondgeskuif word en het toe 13 jaar gelede saam met hulle eie drie kinders in ‘n huis ingetrek. Binne twee weke was daar 11 kinders wat vir die eerste keer ‘n stabiele, liefdevolle huis en ‘n gesin om aan te behoort, leer ken het.
Ons kon ook R2000 se kruideniersware wat tydens die afgelope naweek se #GoeieNuusKersboom projek ingesamel is, vir Ki-deo skenk en Jacques Jones van Monument Park SuperSpar het heerlike platters geborg wat gesorg het vir ‘n gesellige atmosfeer. Daar om die raadsaaltafel van die polisiestasie is ‘n hele paar positiewe stellings gebore sodat ons nie net TEEN iets staan nie, maar ook VIR iets en toe ons die manne en vroue in blou vra wat ons as ‘n gemeenskap kan doen om te help, was hulle antwoord: “Maak jou oë en ore oop en stel die polisie in kennis as jy onraad vermoed of dat ‘n vrou of kind blootgestel word aan gesinsgeweld en verwaarlosing. En maak julle harte oop vir hierdie vroue en kinders, want hulle nood is groot en moontlik bly hulle in slegte omstandighede, want hulle sien nie ‘n ander uitweg nie…”
Klik hier om na die fotos te kyk!
Deel hierdie artikel