#JouMenseMyMense saam met SPAR – Dinokeng se ‘den’
Die definisie van ‘n ‘den’ is onder andere ‘n plek van veiligheid, ‘n skuiling…en dit is presies wat Dinokeng se ‘den’ – vir gebruik deur die vrywillige veldwagters – vir 12 leerders van Skoliwe, geleë in die informele nedersetting, Plastic View, die afgelope naweek was. ‘n Plek van veiligheid, waar vreugde en verwagting ‘n baie groter spasie as waaraan hulle gewoond is, gevul het.
Die vrywillige veldwagters van Dinokeng het reeds verlede jaar betrokke geraak by GROOTfm 90.5 se projekte en die geleentheid ontgin om kinders wat woonagtig in kinderhuise is, en kinders wat deur uitdagende omstandighede gekonfronteer word, na hulle ‘den’ toe te neem. Dis hier waar hulle kan ontvang en net ‘wees’! Die kinders wat hier kom kuier ontvang nie net geskenkies en bederfies nie, maar ‘n magdom inligting en opvoedkundige stories van die bos en alles daarin.
Die leerders van Skoliwe was almal toegerus met slaapsakke (geborg deur Cosmo Group), sweetpakke, musse en serpe, ‘n smaaklike spyskaart en kruideniersware (geborg deur SPAR), lekkergoed-pakkies en boekies waarin die kinders kon notas maak en afmerk wat hulle alles gesien het. Nog ‘n groot bederf was ‘n paar skoene vir elkeen, drie pare kouse, komberse, handdoeke, en ‘n toiletware-sakkie gevul met seep, tandeborsel, tandepaste en ‘n waslap.
Vir die groep van Skoliwe, was die tent wat groter as hulle huise is, die warm stort en bed, buiten die bos en diere-besigtigings, van die vele hoogtepunte. Die aktiwiteite het van spoorsny en inkleur, tot skattejag en kolwyntjies-versier, en ‘n gewyde, heilige opening op Vadersdagoggend ingesluit. En natuurlik, was daar malvalekkers op die vuur voorberei. Die groep is vergesel deur Sophy Torima, die skoolhoof van Skoliwe, Agnes Radebe, Projekbestuurder van SA Cares For Life, Joel Mabunda en Francis Tasariraona, Operasionele Bestuurders by SA Cares for Life. Die groep van Dinokeng Vrywillige veldwagters was Theresa Ellwood, Diana de Coning, Riana Kruger, Louise Kruger en Debbie Smuts, almal onder leiding van Theuns Kruger. Dit was ook saam met veldwagter Johan Oosthuizen, sy omvattende boskennis en die borgskap van sy wildbesigtigingsvoertuig waarmee die groep die Dinokeng-leeus gesien het!
Direkteur van SA Cares for Life, Sanet Fagan, skryf die volgende op haar sosiale media na die eerste ‘kamp-dag’: “First day of camping in #Dinokeng for the kids from Plastic View! What an experience….
Bathrooms felt like heaven to them…
Beds and blankets…
Toilets…
Cup cake decorations and praying for our food…
Being able to bath…
And then movie night watching lion king and finally a cuddle in bed with marshmallows!
I love them all so much and I am so very grateful to GROOTfm 90.5 Theuns Kruger and the Dinokeng Voluntary Rangers for hosting them.
And this morning! Giraffes at sunrise!
I wish I was there, but gave up my space so my wonderful staff and team from Plastic View could also experience this wonderful blessing and have a memory they will also not forget. Like Agnes (director and team manager) said this morning…. “First time I ever saw a Giraffe in my life Ma Sanet!” If you follow my posts you will know what Plastic View, where they live, looks like and you will be able to understand how BIG this really is.“ #sacares4life #blessings
Mag ons nooit die omstandighede van baie mense onderskat nie. Ook nie die wegbreek en asemskep-geleentheid uit hierdie omstandighede nie. Mag ons nooit die voorreg om in ‘n kar te klim en bos toe te ry voor die hand liggend aanvaar nie. Mag ons nooit die belewenis van ‘n warm stort en bed as ‘n reg beskou nie.
‘n GROOT dankie aan die spanvrywilligers van Dinokeng wat hulle langnaweek opgeoffer het om ‘n massiewe verskil gemaak het. Aan borge wat bygedra het tot hierdie groot verskilmaak! Aan SPAR vir die kruideniersware waarmee die kinders en personeel kon feesvier! Aan Cosmo Group vir die warm slaap!
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: