You are currently viewing #HOOPstoot – Kersfees HOOPstoot 3 – Candice se kunsbeen vir Kersfees! – 22 November

#HOOPstoot – Kersfees HOOPstoot 3 – Candice se kunsbeen vir Kersfees! – 22 November

Deel hierdie artikel

Candice Badenhorst (37) was 19 jaar oud toe sy met ‘n vorm van beenkanker gediagnoseer is. Na 5 sessies chemoterapie het hulle die gewas uitgesny, maar kort daarna was daar weer ‘n knoppie op haar been. Na die opvolgoperasie het die wond nie gesond geword nie en 4 maande voor haar 21ste verjaardag is haar been geamputeer. Die verlies van haar been, 16 jaar gelede, het Candice nog nooit ondergekry nie. Sy het wél een groot droom: Om eendag hand-aan-hand met haar kinders te kan loop… Iets wat sy nog nooit met haar krukke kon doen nie. Candice en haar man Francois het twee seuns – 5 en 7 jaar oud – en hulle, saam met die ondersteuning van haar ma, is die grootste rede hoekom sy nie sal gaan lê nie. Haar briefe aan ons was ook nie vir hulp vir haarself nie. “My ma is die wonderlikste mens. Sy het alles opgeoffer om my beter te kry, skuld aagegaan vir doktersrekeninge en nog baie meer. Sy kan self nie meer werk nie as gevolg van haar gesondheid en bly in ‘n woonstel in ons erf. Al wat ek vra is ‘n bietjie bederf, want sy sal haar laaste gee vir mense al het sy self niks nie.” Ons span het met Candice afgespreek om haar ma by ‘n koffiewinkel te verras. Candice het vir haar ma gesê sy moet gaan vir ‘n werksonderhoud… Danksy Chris van SkinPhD Mall@Reds kon ons die tannie bederf met ‘n reuse R5000 geskenkbewys vir van hare en naels tot produkte en grimering! Die tannie was so dankbaar en Candice het gedink ons is klaar… Maar toe kom haar man Francois en 2 seuntjies, almal met blomme in die hand en die GROOTfm span met balonne om die hoek en kom staan om die tafel waar Candice se ma nog effens oorbluf voel na die lekker verrassing… En na ons Candice uitgevra het oor haar droom en sy tussen deur die trane probeer verwoord, tree Ben Prinsloo van Prinsloo Ortopedies en Simoné Weyers van Weyers Ortopediese Dienste vorentoe met die nuus dat hulle, in samewerking met ӦSSUR wat die parte voorsien vir Candice ‘n been gaan bou met ‘n splinternuwe voet wat nog nie eers op die mark is nie! ‘n Geskenk wat beteken dat Candice vir Kersfees die eerste keer hand-aan-hand met haar kinders sal kan loop – ‘n #HOOPstoot wat eintlik nie in waarde gemeet kan word nie, maar ‘n kunsbeen wat tussen R200 000 en R300 000 werd is! Mag die mooi wat ons in hierdie “seisoen van gee” beleef ons almal inspireer om ‘n “lewe van gee” te leef!

 

 

Vir al die fotos volg die skakel: Candice se kunsbeen vir Kersfees! – 22 November 2019

Deel hierdie artikel

Leave a Reply