Vanoggend het ons span ‘n matriekdogter van Hoërskool Menlopark en haar ma by Stephnie’s in Lynnwood Bridge gaan verras. Danielle Burger moes leer veg van haar eerste asemteug. Sy is gebore te midde van soveel komplikasies en mense wat eintlik daar al wou opgee op haar… Sy het bitter swaar gekry op skool met kinders wat haar gespot het. Sy het nie voortande gehad nie, skoliose het haar rug krom getrek en haar groei beperk met werwels wat nie almal ontwikkel het nie. In 2017 beleef hierdie stil-sterk dogter ‘n groot terugslag toe haar pa skielik sterf en oornag verander hierdie gesin se hele lewe. Danielle se ma, Sunette verloor boonop haar werk in dieselfde tyd. Hulle sukkel steeds om die huis verkoop te kry om dit nie te verloor na 23 jaar nie, Danielle moes al 2 neusoperasies gehad het hierdie jaar en as die eindeksamen net eers agter die rug is, lê daar vir haar nog ‘n groot rekonstruksie operasie voor. Haar ma kry steeds nie werk nie, maar moed opgee en gaan lê was net nog nooit vir Danielle ‘n opsies nie. Sy het planne om volgende jaar onderwys te studeer met Sielkunde en soos enige ander matriekmeisie droom sy van ‘n mooi matriekafskeid. Die briefie wat ons oog gevang het, vertel hoe Danielle al haar spaargeld van oor die jare onttrek het om vir haarself ‘n rok te kon koop en ons hoor ‘n ma se hart wat breek omdat sy net nie in staat was om dit vir haar kind te doen nie. “Net ‘n handsakkie, naels en hare,” vertel ma Sunette toe ons vra wat Danielle nog kort. Ons spreek met Sunette af om haar en Danielle by Stephnie’s te ontmoet. Ons het nie eers besef die laaste keer wat Sunette hier geeet het, was 2 jaar terug voor haar man se dood nie. Ma en dogter drink koffie by ‘n tafel vol blomme toe Riva bel en Lindie nader stap om die goeie nuus met Danielle te deel wat van niks geweet of selfs vermoed het nie. Tussen dankbare trane hoor Danielle en haar ma van mense wat hulle ete betaal het, ‘n anonieme vriendin wat vir haar ‘n handsakkie koop en gereel het dat haar naels en hare gedoen word, Frikkie en Zelda van FZ Jewellery Design wat vir haar ‘n R500 kontantbydrae gee en toe die groot verrassing – ‘n R5000 geskenk van Capital Singers om daardie neseier wat sy so mooi oor al die jare opgebou het, weer aan te vul. Danielle, mag hierdie geskenk jou altyd herinner aan ‘n gemeenskap wat in jou glo en nie kan wag om te sien wat jy gaan regkry soos die volgende hoofstuk van jou lewensverhaal aanbreek nie… Ons wens jou alle seen en voorspoed vir jou eksamen, jou matriekafskeid en jou toekoms as Juffrou Burger!
Vir al die fotos volg die skakel: Danielle Burger – 30 Augustus
Deel hierdie artikel