#JouMenseMyMense saam met SPAR – Karavaan-gesin se nuwe lewe – 9 September 2020
Op 5 Augustus het ons vir Danie, Madelyn en Nella ontmoet – die gesin wat ‘n stukkende en gemufde karavaan vir R100 ‘n dag gehuur het. Die reaksie van ons luisteraars op hulle verhaal was absoluut verstommend en Sanet en Russell Fagan van SA Cares for Life het betrokke geraak en ‘n pad begin stap. Danksy die bydraes van ons luisteraars, kon hierdie gesin na ‘n nuwe huis trek – loopafstand van Nella se skool en skielik is haar gesondheid sommer stukke beter. Madelyn het haar rekenaarkursus begin en is trots op hoe mooi en netjies haar huis lyk. Danie leer hoe om sy eie kar reg te maak met parte wat gekoop is met ‘n skenking van ‘n donateur uit China en ‘n ander borg uit Amerika het vir Danie ‘n fiets gekoop waarmee hy ry om elke dag op sy pos as karwag te wees.
Ons JouMenseMyMense span het gaan inloer om hierdie liggaam, siel en gees vernuwing saam met die gesin te vier terwyl Liandri Ferreira, Madelyn met ‘n hare en grimering mooi-maak bederf het.
Baie, baie dankie vir elkeen wat op ‘n manier bygedra het vir hierdie gesin. Vir die anonieme borg wat die verblyf moontlik gemaak het, vir SPAR en Liandri en in besonder vir Sanet en Russell. Dis mense wat in mense se lewens belê met tyd en moeite en die oordrag van ‘n vaardigheid wat hulle weer vir die volgende persoon kan aangee. Verhouding verander mense se lewens.
Danie het sy pa baie vroeg in sy lewe verloor, maar saam met die “Power of the Father” groep ontdek hy nou sy ware identiteit in dit wat God van hom sê en is sy droom om ‘n motorwerktuigkunde te word, besig om waar te word.
Soos Sanet sê: “Die werk is nie klaar nie, maar hulle ‘hoop-meter’ het opgegaan” en as ons elkeen maar net een gesin so onder ons vlerk kan neem, het die Nella’s van die wêreld werklik ‘n toekoms…
#LuisterWeer hier:
Vir al die fotos volg die skakel: Karavaan-gesin se nuwe lewe
Deel hierdie artikel