You are currently viewing Aanneemdiere – die stertkant van hul storie, #BeBold

Aanneemdiere – die stertkant van hul storie, #BeBold

Deel hierdie artikel

Aanneemdiere – die stertkant van hul storie

“‘n Troeteldier kan nie iets anders vervang nie, maar is opsigself onvervangbaar.”

Dit is die konsep waarop hierdie bewusmakingsveldtog gebaseer is, en natuurlik om Jan Publiek aan te moedig om ‘n hond of kat aan te neem – en só verligting te bring aan die oorvol hokke of kampe wat by diereskuilings regoor Suid-Afrika ervaar word. Hoekom die veldtog? Volgens nationaltoday.com en verskeie ander webtuistes, word 1 Augustus erken as ‘Universal Birthday for Shelter Dogs’. Hier fokus ons wel nie net op honde nie, maar op die katte (en hier en daar plaasdiere) wat in skuilings woon.

Die mees onlangse getalle wys dat daar ongeveer 1 000 honde en katte by Wollies Animal Project is. Volgens Veronica van Greunen, skuiling-bestuurder van Wetnose, is daar tans 283 honde, 45 katte, 45 perde, ses bokke, drie varke, vier donkies en ‘n skaap wat hierdie skuiling hulle huis noem. Nie eers te praat van Woodrock dierskuiling wat 265 diere en Dogtown wat 120 honde en 10 katte huisves nie. Hierdie is net enkele skuilings in die Pretoria-omgewing. Die DBV, net in Waltloo en Centurion, huisves tans onderskeidelik 170 en 180 diere, volgens Dewald Wahlstrand, algemene bestuurder by die Waltloo-tak.

Die veldtog is geloods deur Sonet Stofberg, projekbestuurder van GROOTfm 90.5, en Die GROOT Ontbyt-aanbieder, Johrné van Huyssteen, wat self twee groot diereliefhebbers is. Met behulp van Jislaaik-Ja! Photography, onder leiding van Christine Oelofse, het hulle besluit om Wollies Animal Project in Hestia Park, Pretoria, te besoek om die foto’s vir die veldtog te neem.

Sonet is in 2008 gediagnoseer met ‘n autoimmuun sindroom wat Alopecia Areata as ‘n sekondêre simptoom veroorsaak. Sy het besluit om ‘haarloos’ na ‘vreesloos’ te verander, en hoop dat hierdie veldtog opnuut bewustheid sal kweek oor die uitdaging waarmee diereskuilings konfronteer word op ‘n daaglikse basis. Ook, om die wanpersepsies om die aanneem van ‘rescue’s’ verkeerd te bewys.

Johrné het eintlik ‘n pragtige blonde kapsel, maar het in 2001 gedurende ‘n Desember-vakansie ‘n tuis-haarskeer probeer. Hierdie eksperiment het ontaard in ‘n 4cm-hap! Hy was met geen ander keuse gekonfronteer as om sy hare met ‘n knipper op nommer-1-skaal te probeer beredder. As gevolg van sy nuuskierige en waaghalsige geaardheid, het hy ter stond besluit om dit toe verder te vat, en met ‘n skeermeslemmetjie af te skeer. 20 jaar later, skeer hy nog steeds sy kop! Min wetend dat hierdie haarskeer-flater in 2001 toe ‘n groot deel van sy identiteit sou word!

Die konsep van ‘n troeteldier wat onvervangbaar is, is uitgevoer deur ‘n baba hond of kat bo-op die plek te sit waar daar eintlik ‘n kapsel hare moet wees. Dus was die idee om te wys dat ‘n hond of kat nie die hare kan vervang nie, maar om te beklemtoon dat ‘n troeteldier opsigself onvervangbaar is. Dink aan jou troeteldiere, en almal wat jy al moes groet in jou lewe; Sonet kan daarvan getuig. Daar is net een Baby, Venus, Flexi, Tinka, Suzi, Tammy, Nikita, Taffy, Maggie, Olof en Katryn. Haar dierekinders tans is Fiela (van Wollies Animal Project) en Moremi (‘n verjaarsdag-geskenk).

Johrné beaam hierdie met die herinneringe aan sy dierekinders. Johrné se eerste hond was as eerste-jaar student. Shadé was ‘n ‘whippet’, wat saam met hom klasgedraf het, en flieks toe vergesel het in sy rugsak. Hy onthou ook vir die legendariese poodle, Hagar, en vandag is sy dierekinders, die Great Dane, Mnandi, en die multi-kruis, Stoffel. (Hy noem dat DNA van Ice Age se Syd ook deel van Stoffel se samestelling mag wees). Mnandi het hy ontvang as ‘n daknatmaak-geskenk en Stoffel was aangeneem by die DBV.

Volgens Cilla Texler, stigter van Wollies Animal Project, is daar baie voordele aan aanneem-diere. Dis meer as ‘n aangename en angenome kennis. Cilla sê die grootste voordeel is dat meeste van die organisasies se aanneemfooi regtig baie bekostigbaar is, en prosedures soos sterilisasie/kastrasie, ontwurming, inenting en ook ‘n mikroskyfie insluit. Om die prosedures afsonderlik te doen is aansienlik duurder. Cilla sê ook sy glo dat aanneemdiere besef hulle ontvang ‘n tweede kans, wat dan die beste uit hulle bring.

‘n Paar wanpersepsies van aangenome diere, volgens Cilla, sluit in die geskoeide definisie van die woord “rescue”. “Dit beteken vir die meeste mense ‘weggooi diere’. En soveel mense dink nog steeds dit is die lelikste diere met gedragsprobleme, wat beide onwaar is. Hulle eienaars het hulle in die steek gelaat en nie andersom nie”, sê Cilla. “Of mense dink dit is siek diere, wat ‘n groot wanpersepsie is. Die skuilings moet aan sekere vereistes voldoen en dit is om te sorg dat die diere ten alle tye deur veeartse ondersoek word en die nodige mediese hulp ontvang.”

Volgens Cilla is van die grootste uitdagings waarmee ‘n diereskuiling gekonfronteer word, die oorweldigende getal diere wat mense op ‘n daaglikse basis na die skuilings toe bring. Meeste diere wat tans by Wollies Animal Project woonagtig is, is daar as gevolg van redes wat insluit:

  • - mense wat hul huise verloor het en nie meer vir hulle diere kan sorg nie,

  • - wanneer die eienaars na ‘n ander provinsie toe verhuis en nie hul diere kan saamneem nie,
  • - die hond raak skielik na jare aggressief,
  • - die vrou raak swanger en die eienaars ontwikkel ‘n vrees oor wat hul hond of kat aan die baba kan doen,
  • - almal in die huis ontwikkel skielik allergieë,

  • - die diere grou gate en vernietig die tuin,
  • - en laastens, die hond/kat word dragtig en die eienaars wil nie meer na haar omsien nie, behalwe vir die een of twee kleintjies wat hulle graag wil hou.

Kom ons word opnuut aangemoedig om ‘n hond of kat aan te neem, en aan ‘n dier wat jou so onvoorwaardelik liefhet, dieselfde guns te bewys.

Kom ons “rescue” ‘n “rescue”, en maak hierdie wonderdiere deel van ons lewe en ons liefhê; geen bepalings, net eenvoudige ‘fur’eistes. En, soos die Engelsman sê: ‘adopt, don’t shop’. Die Engelsman sê ook: ‘let’s be bold’!

*Neem ‘n foto van jou “rescue”-dierekind, en gebruik die hutsmerk #BeBold. Kom ons mobiliseer ‘n nasie om dieselfde te doen.

Deel hierdie artikel

Leave a Reply