#JouMenseMyMense – Nico Botha | 12 Augustus 2026 | GROOTfm 90.5
Nico Botha is met ’n aggressiewe plaveiselkarsinoom(‘n tipe velkanker) in sy gesigsarea aan die linkerkant gediagnoseer. Sy linkeroor is een groot wond, en elke dag leef hy met ondraaglike pyn terwyl die kanker aanhou versprei en sy gesondheid verswak. Hy het nie meer ‘n oor aan die linkerkant agv die tumor. Dit het sy en sy vrou, Joey, se lewens ingrypend verander en elke dag is ’n stryd. Nico wag al maande op ’n lewensreddende operasie by een van die staatshospitale in Pretoria , maar weens honderde pasiënte wat ook wag, raak tyd sy grootste vyand. Die talle kere wat hy die hospitaal besoek het, het personeel die wond skoongemaak en hulle huis toe gestuur.
Nico is weens sy gesondheid nie meer in staat om produktief te werk of enige groot werk aan te pak nie. Ten spyte van die pyn en ongemak probeer hy steeds elke dag iets doen. Soms sit hy ure lank en stroop ‘n paar elektriese kabels om die koper bymekaar te maak sodat hy dit kan verkoop. Dit bring nie baie in nie, maar hy doen dit omdat hy so graag nog iets vir huishouding wil beteken. Nico en Joey se finansiële situasie het uiters uitdagend geword. Nico se medikasie kos elke maand baie geld, en kan hulle nie meer hul huur bekostig nie, met Nico se SASSA-toelaag wat direk hiervoor gebruik word.
Joey kan nie op die oomblik gaan werk nie weens Nico en haar pa, wat by hulle woon, se voltydse versorging. Nico se wond moet elke 4 ure skoongemaak word, en hy kan nie dit self doen nie. Familie help hulle waar hulle kan met klein bedrae, waarvoor hulle opreg dankbaar is, maar daardie geld gaan gewoonlik dadelik vir medikasie en iets om te eet. Voordat Nico siek geword het, was hy die broodwinner. Hy is ‘n ongelooflike hardwerkende man en nou dat hy dit nie meer kan doen nie, is dit nie net hulle huishouding wat in mekaar tuimel nie, maar sy selfwaarde ook. Intussen was hulle vir ’n privaatkonsultasie by Dr Johann Kluge, en daarna by Dr Ben Moodie, ’n plastiese sjirurg.
Die goeie nuus is dat, volgens Dr Kluge, Nico geopereer kan word, en dat die kanker nog nie versprei het nie. Na ’n deeglike ondersoek het die familie sewe kwotasies ontvang, wat die plastiese sjirurgie insluit, en die finansiële behoefte van die prosedures sluit naby aan ‘n miljoen rand in.
Nico, Joey en Dr Kluge het by GROOTfm 90.5 kom kuier…
#gaanGROOT #GROOTverskil #Omgee #care #givingback #jouGROOTstefm
Luister HIER na die spesiale oomblik:
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Deel hierdie artikel
