#JouMenseMyMense 2018 saam met SPAR het op 6 Februarie afgeskop met ‘n onverwagse ekstra #HOOPstoot vir hierdie aspirant “Juffrou” van #LaerskoolDanieMalan!
Engela Wissing het op Saterdag, 2 Desember, vir Nicole, wat toe reeds 18 was en dus die kinderhuis moes verlaat, met haar 2 rugsakke, grimeersakkie en ‘n bos gedroogte blomme gaan optel om haar by haar nuwe adres in Pretoria-Noord af te laai. Die huisouers en maatskaplike werkers het verseker gedoen wat hulle kon, maar, soos Engela verduidelik, “dit voel nie reg om hierdie dogter wat eintlik nog kind is, met ‘n paar aardse besittings in die grootmenswêreld te los, sonder sakgeld, kos of ‘n voertuig, ‘n yskas of ‘n bankkaart met selfs net R100 op, geen vangnet of ‘n pa wat jou kan leer van belasting betaal of hoe ‘n selfoonkontrak werk nie. Sy is onmiddellik verantwoordelik vir die R2200 huur al kan sy eers einde Januarie haar eerste salaris verdien!” Maar hierdie dapper meisie met haar sagte bokkie oë het vir Engela verseker: “Ek gaan ok wees, tannie.”
‘n Onderwyser by Nicole se hoërskool het vir haar ‘n onderhoud by die skool gereël en sy het die pos as klas-assistent gekry en Engela en haar vriende het ingespring en gehelp met klere vir Nicole se nuwe werk en selfs ‘n yskas vir haar kamer!
Ons het vanoggend vir Nicole gaan verras by die skool met kruideniersware, toiletware en skryfbehoeftes danksy ons vriende van #SPARNorthRand en spesifiek Monumentpark Superspar.
Ons het ook genoem van Nicole se dringende behoefte om voor April 2018 haar onderwysstudies te begin om so haar werk en inkomste te verseker en uiteindelik haar kleintyd droom om eendag ‘n Juffrou te word te verwesenlik. Mariana Kriel, Streeksorganiseerder van Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging het dadelik gereageer met die goeie nuus dat hulle vir Nicole sal help met haar studies!
‘n Ongelooflike voorbeeld van hoe ‘n gemeenskap kan saam werk en elkeen ‘n stukkie bydrae om vir Nicole sommer ‘n GROOT nuwe familie by te gee! Baie, baie dankie vir almal wat gehelp het!
#BOUfamilie #BOUmense #BOUdrome
Deel hierdie artikel