Elke week reg deur die jaar het ons iewers ‘n raakpunt met iemand se lewe – ‘n “jou mense is my mense oomblik” saam met ons vriende van SPAR
Op 20 Februarie het ons dinge so bietjie omgeruil… Hendri Myburgh was vanoggend in ‘n SPAR in Pretoria om een van SPAR se ‘familielede’ se behoefte te ontmoet.
Simone is ‘n 27-jarige enkelouer van ‘n pragtige 12-jarige dogter. Sy is einde laas jaar gediagnoseer met Stargardt Disease – dis ‘n oogsiekte wat, soos ons dit verstaan, die retina – die weefsel aan die agterkant van die oog wat lig waarneem en verantwoordelik is vir die skerp, reguit-voor-jou visie, stukkie vir stukkie afbreek. Kenners reken dat 1 uit elke 8000-10000 mense hierdie siekte het wat jou uiteindelik kan laat met 20/200 visie of selfs erger. Simone het in hierdie stadium so ongeveer 30% van haar sig oor en sien bv. net ‘n wit kol as sy reguit na iets kyk. Sy kry geweldige hoofpyn en drink 8 tot 10 pynpille ‘n dag. Simone is een van die vriendelike kassiere by Ninapark SPAR! Elke dag op haar pos en dankbaar vir hierdie werk wat vir haar en haar dogter voorsien! Maar sy het ook ‘n dringende behoefte aan ‘n nuwe bril…
En Hendri het die voorreg gehad om voor haar te staan met ‘n bossie blomme en ‘n boks sjokolade om die goeie nuus, dat een van ons lojale vriende van GROOTfm 90.5, Ilana de Swardt van Specs4U Centurion– iemand wat oor Desember so stil-stil honderde splinternuwe brilrame aangekoop het en geskenk het vir Triomf Kliniek – haar ook graag wil help met ‘n gratis oogtoets, brilraam en lense!
Dankie vir ons vriende van SPAR wat saam met ons die pad stap om mense se lewens aan te raak met ‘n gebaar van liefde en dankie aan Ilana De Swardt Boonzaaier van Specs4U Centurion wat dadelik ingestem het om vir Simone te help met haar bril.
Jou mense is my mense en saam is ons beter!
Deel hierdie artikel