You are currently viewing #JOUMENSEMYMENSE -13 Maart 2018

#JOUMENSEMYMENSE -13 Maart 2018

Deel hierdie artikel

Joanise Keith en haar ma, Denise was oppad terug van Bethlehem in die Vrystaat op ‘n reënerige Sondagmiddag, toe hulle in die middel van die N3 ‘n hond sien staan. Die pad was besig met baie trokke en vinnige karre en hulle het besluit om by die naaste afrit terug te draai om die hond te gaan help.

Die hond het op ‘n manier, ongedeerd die hoofweg oorgesteek en Joanise het haar langs die pad opgetel. Die hond was baie moeg en oortrek van vlooie en bosluise, maar sag en kalm van hulle eerste ontmoeting af.

Hulle het begin soek vir ‘n skuiling of plek van veiligheid waarheen hulle die hond kon neem, maar daardie tyd van ‘n Sondagmiddag het die organisasies of nie hulle fone geantwoord nie of daar was net eenvoudig nie plek nie. Die Onderstepoort Veearts en Dierehospitaal was bereid om te help en toe hulle vra wat die hond se naam is, het Joanise spontaan gesê: “Optel”

Die Maandag het hulle vir haar gaan kuier en besluit as hulle nie haar eienaars met die vele pogings op sosiale media opspoor nie, sal hulle haar aanneem. Dinsdag 13 Februarie, het sy goed genoeg aangesterk dat Joanise haar kon huis toe neem, maar iets was nie vir haar lekker nie en die middag het sy haar weer teruggeneem vir verdere toetse. “Ons het gedink ons sou haar weer sien, maar het nie eers kans gehad om totsiens te sê nie,” vertel Joanise. Niemand het besef hoe aggressief Optel se Bosluiskoors was nie en sy is op Valentynsdag, die oggend 3 uur dood.

Joanise het besluit, Optel wat so vinnig en diep in haar gekruip het, moet ‘n nalatenskap hê en so het sy hondekos, speelgoed en kombersies begin insamel. Op die 3de Maart kon sy ‘n kattebak vol goedere vir Wollies Animal Project, wat tans meer as 1000 diere versorg, skenk. Joanise gaan nou elke maand vir ‘n ander organisasie wat na diere se behoeftes omsien, goedere insamel en skenk – al is dit 1 of 2 sakke kos!

Ons vriende van #SPAR het vanoggend sommer 11 sakke hondekos geskenk en die volgende 10 sakke word more vir Joanise afgelaai!

Optel was ‘n hond met ‘n doel wat hierdie verpleegster van Kloofhospitaal se omgeehart in askie gebring het en ons almal herinner om die mense en diere op die sypaadjies van die lewe raak te sien en nie net verby te loop of ry nie…

Besoek gerus die OPTEL – Our Stray Dog Facebook-blad om verder betrokke te raak!

Deel hierdie artikel