You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Anthony se beskermengel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Anthony se beskermengel

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Anthony se beskermengel

Anthony Melville het die ‘wewenaar’-etiket op die 18de Februarie gekry, toe die liefde van sy lewe, na ‘n baie gelukkige huwelik van 29 jaar (vanjaar sou dit 30 wees), die wenstreep behaal. Sy is een maand en 18 dae na haar diagnose oorlede aan kanker.

Leatitia Melville, Anthony se skoonsuster, het ‘n hulpkreet aan ons gerig toe sy uitvind van Mirinda se Vlak 4 kanker, en deel toe met ons dat die hospitaal vir Mirinda en Anthony heeltyd huis toe stuur. Hulle was raadop, met hulle soeke na antwoorde, en al wat ons kon doen, is hulle in kontak sit met Thea en Cisca, ons familie van CANSA. Hulle het ons laatweet dat daar niks is wat die dokters meer kan doen nie, maar, was so dankbaar oor Thea en Cisca se ontferming oor hulle. Met haar roudiens, het Lize Bothma van Lize Bothma Begrafnisondernemers ook op kort kennis ingespring en met Mirinda se roudiens se blomme gehelp, omdat daar nie finansies was nie. 

‘Ek onthou, op die 17de Februarie, toe skoonsus Leatitia my kontak om te sê dat dit nie goedgaan met Mirinda nie, ek haar gevra het of sy ‘n ‘bucket list’ wens het…Leatitia het gesê sy gaan my laat weet…en die dag daarna, ontvang ek ‘n epos met die nuus, dat Mirinda by haar Vader is.’

‘n Skok vir almal, met Mirinda, wat ‘n ‘presence’ gehad het soos niemand anders nie. Iemand wat ‘n vertrek kon vul met haar vreugde en liefde en sagmoedigheid. En Anthony, haar man, wat nie agter gelaat is met ‘n fisiese pyn in sy hart en oorweldigende verlange na haar drukkies en oggend-soene nie, maar met mediese rekeninge.

Hy hou kom bo water deur ‘op te kyk’, sê hy. ‘Ek was nog nooit kwaad vir God nie, en glo Hy het ‘n doel hiermee. Daarom, as ek Hom vrae vra, vra ek wat die doel is. Sy doel vir my, en my doel vir Hom.’ Anthony is dankbaar dat sy vrou nie gely het nie, en dat sy tog nou volkome genees is. Hy glo sy is sy beskermengel, en vertel ons hoe bevoorreg hy is om ‘n engel op aarde te kon hê, en nou ook ‘n beskermengel vanuit die Hemel. 

As dit nie vir sy geloof was, die ondersteuning van sy kinders en kleinseun, en sy familie by die werk nie, sou hy dit nie maak nie. Trane vul sy oë soos hy ons vertel dat hy tog eensaam voel. Veral as hy huis toe terugkeer na na ‘n werksdag. Sy vrou se bulderende, jubelende stem is stil. Haar teenwoordigheid wat hom altyd omhels het. Hulle was onafskeidbaar, en is nog steeds.

Liewe Anthony, Jesus se hart was ook gebreek. En, Hy het opgestaan. Ons glo jy gaan ook. Onthou, daar is mense wat vir jou baie lief is, daar vir jou is. En onthou, bo alles, dat Hy sterk is wanneer jy swak is. Mag jou trane van hartseer binnekort in trane van vreugde verander, soos die kosbare en onvervangbare herinneringe van jou en jou lieflike beskermengel jou oorweldig. Hou aan beweeg, ter wille van haar. Ter wille van jou kinders. Ter wille van JOU! Ja, jy het ‘n doel, en jou Vader sal jou bly bemagtig, rig en lei om hierdie doel te bereik. Geniet die kuier by jou kinders in Durban – omhels mekaar, en elke sekond wat julle die voorreg het om in mekaar se teenwoordigheid te kan vier!

GROOTfm 90.5 kon met behulp van donasies ten bate van die #HOOPstoot-fonds Anthony se uitstaande mediese rekeninge vereffen. Te danke aan SPAR, kon ons ook vir hom ‘n R1 500-geskenkbewys neem – wat hy vir sy kinders gaan gee. Dankie aan CANSA – Thea en Cisca – vir julle liefde en ondersteuning, en veral ontferming. Dankie aan Lize Bothma vir jou mooiste hart en omgee!  

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply