You are currently viewing #JouMenseMyMense – 27 Maart 2018

#JouMenseMyMense – 27 Maart 2018

Deel hierdie artikel

10 jarige Amelie Meyer van Laerskool Voorpos het gedurende die Desembervakansie snaakse kolletjies op haar bene en die res van haar lyfie uitgeslaan. Sy is in Januarie gediagnoseer met ‘n rare chroniese immuunsiekte. Die dokter het onmiddellik met baie aggressiewe behandeling begin wat onder andere chemo insluit.

Die mediese fonds het die eerste chemo behandeling betaal waarop Amelie baie goed reageer het, maar toe daar ‘n hakplek is met die betaling vir die tweede rondte, het familie en vriende ingespring om die ongeveer R30 000 wat nodig was, bymekaar te maak. Amelie kort egter nog 4 chemo behandelings in ‘n spesifieke siklus voor hul die pad vorentoe kan bepaal. Deurlopende toetse en spesialis afsprake plaas ook finansiële druk op hierdie gesin en dit na mamma, Chriselda Meyer, 2 jaar gelede met borskanker gediagnoseer is en Amelie se pappa kort daarna met suikersiekte.

Hierdie dapper dogtertjie het Saterdag haar tweede chemo gehad, maar is weer terug by die skool en op haar pos as deel van die skool se koor. Ons het haar op 27 Maart 2018 gaan verras in die saal waar hulle opgetree het as deel van die Tshwane Biblioteekweek.

Amelie se grootste bekommernis was haar “nooit afwesige sertifikaat”, die klasse en skoolwerk wat sy gaan mis en die sport wat sy nie kan doen nie! Maar ten spyte van ‘n paar “af” daggies en haar gesiggie wat geswel was van die kortisoon, was sy onlangs vir die tweede keer in ‘n ry, die Graad 5 wenner van haar skool se interne redenaarskompetisie en sluit sy die eerste kwartaal af met ‘n gemiddeld van bo 90% – 100% vir amper al haar kwartaaltoetse!

Ons dink Amelie is ‘n “Super Girl” en daarom het ons haar gaan “kroon” met ‘n “super-hero-outfit” saam met kolwyntjies vir haar klasmaats en ‘n geskenksakkie met o.a. 6 van haar gunsteling sjokolades – Aero (een vir elke chemo sessie) – asook ‘n Barbie pop, sagte beertjie en bederfies vir haar en kleinsus, Mila (8) – dit alles danksy ons vriende van #SPARNorthRand en Monumentpark Superspar!

Soos haar Tannie, Janine Van Staden sê: “Ons weet God het ‘n groot plan vir haar lewe en hier kom nog ‘n groot getuienis. Sy is alreeds so ‘n inspirasie vir ons almal om ten spyte van omstandighede aan te hou probeer… met ‘n mooie glimlaggie daarby!”

Deel hierdie artikel