10 jarige Divenette Streicher Brave Little warrior of God veg al weke om haar lewe na haar blindederm gebars het. Sy is aanvanklik met nierpypontsteking en blaasinfeksie gediagnoseer, maar haar pyn het elke dag vererger. ‘n 2de opinie het bevestig dat haar blindederm al ‘n tydjie gelede gebars het en sy is op 19 Februarie 2018 in Steve Biko hospitaal opgeneem aangesien die gesin nie ‘n mediesefonds het nie.
Na haar blindederm verwyder is het dokters vasgestel dat daar bakterieë in haar maag is wat haar dik- en dunderm vreet. ‘n Stuk van haar derms moes noodgedwonge ook verwyder word. Hulle kon nie die derm weer terugsit nie en sy het nou ‘n sakkie wat sy sal moet dra vir tussen 6 maande en ‘n jaar. Sy sal dus nie hierdie jaar kan teruggaan na haar skool, Laerskool Queenswood waar sy ‘n Graad 5 leerling is nie.
Danksy weldoenders wat fondse ingesamel het, kon hulle Divenette op die 30ste Maart oorplaas na Kloof Hospitaal, maar dis nog ‘n lang herstelpad wat voorlê vir hierdie dogtertjies wat al 12 operasies gehad het in die laaste paar weke.
Ons almal wens ons het vandag die fondse gehad om die hele hospitaalrekening te betaal en so verligting te bring vir Divenette se ouers, Minette en Divan – 2 entrepreneurs wie se besighede swaar trek terwyl hulle dag na dag by hulle kind se hospitaalbed waak terwyl daar ook ‘n 8 jarige boetie is… Ons wens ons kon alles vir almal doen, maar laat ons nie nalaat om te doen wat ons wel kan doen nie! Elke rand en sent wat iemand skenk, betaal nog ‘n dag in die hospitaal of nog ‘n bloedtoets, doktersafspraak of x-traal.
Ons het vanoggend by Minette se sussie, Cherize Steyn, gaan kuier om danksy ons vriende van #SPAR vir die gesin ‘n geskenkkaart te gee waarmee hulle gekookte etes kan koop na ‘n lang dag by die hospitaal. Cherize het vertel hoe dit wat met Divenette gebeur het, hulle hele familie geruk het en ook die verskillende projekte waarmee sy en ander organisasies besig is om te probeer help! Van ‘n “Blaze of Glory” vertoning by Emperors Palace Barnyard 14 Junie, ‘n #MovieandMusicNight by #HoërskoolOosMoot op die 26ste Mei met die film #TheRoar wat gaan wys, Panarottis Jean Avenue wat op 25 April 10% van hulle omset sal skenk, Denver Spur Steak Ranch wat 10% van alle verkope tussen 11-13 Mei sal skenk en Jo Black se getuienis op die 15de Mei by Lewende Woord Brummeria!
Vir meer inligting oor hierdie inisiatiewe of om self ‘n bydrae te maak, kontak gerus vir Cherize En Dawie Steyn – 084 450 7933, divenette2007@gmail.com of e-pos Lindie Strydom lindie@grootfm.co.za
Deel hierdie artikel