Maroela Media het onlangs ‘n storie gedoen oor Gidion du Toit. Dit het ons oog gevang en ek deel graag wat ons span Dinsdag gedoen het! Christine Henrico het foto’s geneem – ek het so paar van hulle as ‘n PDF gesave om nie te groot e-pos te stuur nie, maar laat weet asseblief indien julle belangstel in die storie en foto’s benodig!
Ons doel met ons #JouMenseMyMense projek saam met ons vennoot SPAR, is om wanneer ‘n behoefte so oorweldigend groot voel dat jy dink jy niks kan doen nie, jy nie uit die oog sal verloor die iets wat jy wel vir iemand kan doen nie… Ek was totaal en al weggeblaas hoe die manne van die Hi Risk Unit en Tshwane Nooddienste uit hulle pad gegaa het om hierdie ‘n onvergeetlike dag vir klein Gidion te maak…
‘n Konvooi van 6 noodvoertuie van die Hi Risk Unit met opwindende ligte en sirenes het Dinsdagoggend net na 9 voor Gidion du Toit (9) se huis gestop vir ‘n adrenalien-belaaide uitstappie na die Centurion Brandweerstasie!
Gidion is al met geboorte gediagnoseer met ‘n genetiese siektetoestand wat sy beenmurg aanval en was maar 2 dae oud toe hulle sy slukderm en maag moes heg. Hy ly ook aan ‘n gehoorgestremdheid. Hy moes vir ‘n 2 jaar tydperk ‘n anaboliese steroïde gebruik om die beenmurg te stimuleer. Die produk was baie effektief, maar het toe skielik van die mark verdwyn en sedertien gaan sy gesondheid ongelukkig agteruit. Na hy onlangs bloeding op die brein oorleef het, is hy nou weekliks in die hospitaal om onder meer plaatjie-transfusies en tweeweekliks bloedoortappings te kry. Maar hierdie was ‘n kans om weg te breek uit die roetine van hospitaalbesoeke en Gidion se kleintyd droom van Brandweerman word, weer so bietjie aan te vuur!
Gareth Pahl, wat aan die stuur staan van die mediese eenheid van die Hi Risk Unit, het sy span bymekaar gekry en alhoewel die groot wiele van die K9 unit se 4 x 4 dadelik enige seuntjie se aandag sal trek, het Gidion geweet watter een die vinnigste kan ry en saam met Gareth ingeklim. Met redelike lawaai het ons gery tot by die Centurion Brandweerstasie waar die woordvoerder van Tshwane Nooddienste, Johan Pieterse, die blink rooi wa in die son laat trek het. Gidion het sy brandpak aangetrek en agter die stuurwiel ingeskuif om self ‘n paar knoppies te druk en toe ook die blusser en “jaws of life” vasgehou. Die brandweermanne het ‘n paar van hulle loopbane se hoogtepunte met Gidion gedeel waarna hy met die komplimente van SPAR vir elkeen van sy helde ‘n kolwyntjie uitgedeel het.
Gidion se ma, Tuschka Reynders, is hard aan die werk om fondse in te samel vir behandeling by ‘n Amerikaanse sentrum wat spesialiseer in kinders met hierdie spesifieke genetiese toestand. Besoek gerus @GidionFighterofGod op Facebook of die webblad www.hope4gidion.co.za vir meer inligting.