You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met My SPAR: 8 Mei 2018

#JouMenseMyMense saam met My SPAR: 8 Mei 2018

Deel hierdie artikel

Tannie Annalie (63) is in 2012 met Lupus en toe in Januarie 2018 met baie aggressiewe Motor Neuron Siekte gediagnoseer. Dit het heel eerste haar bolyf getref wat dit vir haar moeilik maak om te eet, praat en asem te haal. Ten spyte van haar konstante pyn en gesondheidsuitdagings, het sy haar man ook nog al die tyd versorg na hy vier jaar gelede siek geword van ‘n virus wat sy brein aangeval het. Hy is na 6 weke in die hospitaal ontslaan met breinskade en dementia. Maar dis Tannie Annalie se geloof in God wat haar die innerlike krag gee en Manie Jackson se musiek wat haar nog altyd ‘n amper tasbare rustigheid gegee het.  Tannie Annalie het altyd elke konsert van Manie bygewoon tot sy nie meer kon nie en raak in die aand aan die slaap met haar foon teen haar oor terwyl Manie se musiek speel…

Soos haar dogter Natasha sê: “Daar is so min wat ek kan doen om die pyn en agteruitgang beter te maak, maar ek moes ‘n kans vat om te hoor of Manie nie bereid sal wees om een keer vir my ma sy liedjie Engele te kom sing nie…” En dis presies wat op Dinsdag, 8 Mei 2018 gebeur het… Manie het vir Tannie Annalie by haar dogter se huis gaan verras met ‘n bossie pienk rose en toe vir haar “Engele” in die voortuin gesing terwyl sy en die oom op die stoepie by die voordeur gesit het. Danksy ons vriende van MySpar kon ons ook vir die gesin ‘n geskenkkaart gee saam met ‘n Faith Durie gebedskussing as ‘n herinnering. Ons wou die oomblik op ‘n manier vir die gesin “bêre” en daarom het ons fotograaf, Christine Henrico en Die #GROOTOntbyt span die ontmoeting ook op kamera vasgevang.

Mag ons almal in Tannie Annalie se voorbeeld enduit diensbaar, vol vreugde, vrede en liefde bly teenoor elkeen wat ons lewenspad kruis. Mag ons elke dag voluit leef en die meeste maak van die geleende tyd wat ons met mekaar deel en mag die vrede van die Here met ons elkeen wees soos wat ons dit vanoggend by Tannie Annalie beleef het…

Deel hierdie artikel