Toe Juffrou Kobie du Plessis 22 jaar gelede by Totiusdal ingestap het, was daar maar 1 klas van 29 maatjies. Saam met die ouers het sy begin plant en bou en toe hulle ‘n pophuis wou koop, het sy een Vrydagaand 1080 vetkoeke verkoop! Die kultuur van onderwys wat sy hier kom vestig het, is egter meer werd as die voorskool wat intussen tot 6 klaskamers en 13 personeel gegroei het. Sy glo aan ‘n stywe drukkie elke oggend, die raaksien en in die oë kyk van elke kleuter wat hom dadelik welkom laat voel en opregte erkenning, want Juffrou is mos slimmer as mamma en haar woorde dra soms meer gewig. Sy glo ‘n “boer maak ‘n plan” en ons huil eers as ons planne op is. Storietyd en ‘n gesiggie van ‘n kleuter wat die eerste keer leer fietsry, sal altyd van haar hoogtepunte bly! Sy glo elke ouer is in haar klas geplaas met ‘n doel en ‘n Juffrou het nooit maagpyn of hoofpyn nie. Sy moet altyd lyk of sy lus het vir die lewe en elke dag voluit aanpak. Niemand wil in ‘n kranklike gesig vaskyk nie! Nie dat sy nie omgee as een van haar kollegas se maag, kop of hart seer is nie.
Haar dogter Gerna, wat self vandag ‘n juffrou is, vertel van haar ma se moeite met elke personeellid en haar vermoë om elkeen te motiveer en altyd regverdig en gelyk te behandel. Gerna sê om so saam met haar ma te werk, was verseker die beste leerskool! “Sy maak uitstekende wiskunde hulpmiddels om kleuters wat op verskillende maniere leer, te akkommodeer, sy is ‘n uitstekende storieverteller en haar positiwiteit straal uit haar uit.” Maar dis einste Kobie se filosofie van ‘n juffrou wat dinge met oorgawe saam met haar kleuters moet aanpak, wat gemaak het dat sy nou haar skoolhouskoene finaal moes ophang. Kobie het ‘n tipe long fibrose wat geen medikasie kan genees nie. Sy wil egter nie daarop fokus nie, want daar is steeds elke dag soveel om voor dankbaar te wees en ‘n leeftyd se mooi herinneringe! In haar woorde: “Die pad wat die Here vir my beplan het, was goed!”
Danksy ons vriende van SPAR kon ons Juffrou Kobie gaan verras met ‘n bederfpakkie en blomme sommer net om dankie te sê vir haar jarelange belegging in soveel kinders se lewens!
Klik hier om na die fotos te kyk!
Deel hierdie artikel