You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Fadi en Antonette, 19 Februarie 2020

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Fadi en Antonette, 19 Februarie 2020

Deel hierdie artikel

Antonette is in ‘n shebeen in Danville gebore. Reeds vroeg in haar lewe is sy aan geweldige mishandeling blootgestel. Op 12-jarige ouderdom het haar pa haar vir bokslesse geneem om haarself te kon beskerm en 3 jaar later was sy die Wêreldkampioen in haar gewigsklas. Antonette was die een wat op haar pa afgekom het na hy selfmoord gepleeg het. ‘n Baie donker en stormagtige tyd in haar lewe het gevolg. Vandag getuig sy hoe die Here haar beskerm het en meer as een keer het sy die boodskap gehoor: “Die Here roep jou vir die nasies.” So paar jaar gelede het sy by die Midstream kampus van Doxa Deo ingeskakel waar die Here haar lewe behoorlik omgedop het. Sy kon heel word en het geleentheid gekry om haar getuienis te deel op verskillende platforms. Later het sy ‘n bediening in Danville begin wat vir haar ‘n pad en proses van vergifnis was. Die roeping om verder te gaan na die nasies toe wou haar egter nie los nie en Doxa Deo het haar in verbinding gebring met OM waarna sy Egipte toe is om sendingwerk daar te gaan doen. Met haar sportagtergrond kon sy cross fit begin aanbied en so by mense uitkom terwyl sy besig was om Arabies te leer. Sommer die heel eerste klas wat sy aangebied het, het sy vir Fadi ontmoet. Hy was ook in sportbediening en Antonette het lief geraak vir sy mooi hart nog voor sy eers verlief kon wees… Maart 2019 was sy oppad terug Suid-Afrika toe. Sy het gehoop om haar ma te kom verras. Die nag toe sy hier in Johannesburg land het die boodskap deurgekom dat haar ma vermoor is. Die kuier waarna sy so uitgesien het, het ‘n begrafnis geword. Beide haar ouers sien sy vandag nog as haar helde, wat haar lief gehad het met alles wat hulle gehad het om te gee. Desember het Antonette en Fadi verloof geraak. Fadi het Antonette se kerkfamilie kom vra of hy met haar mag trou en hierdie hele familie het ingespring en begin help met alles wat nodig is vir die troue. Ons het ook ‘n e-pos gekry om te vra of ons dalk kan help en dis met die nader kom wat ons hierdie mooi storie ontdek het. Ons het die voorreg gehad om vir Fadi en Antonette op hulle troudag te ontmoet en ook ‘n geskenk van SPAR en ‘n R5000 bydrae te kon gee. Wonderwerk op wonderwerk en met nog en nog genade is hulle hele troue in ‘n week en ‘n half gereël. Soos Antonette daardie oggend van haar troue vir ons sê: “Ek is nie eers meer verras nie, want dis hoe God werk! En daarom gaan ons troudag nie oor ons nie. Dit gaan alles oor Jesus en al is my ouers nie hier nie, stap Jesus my vandag in!”

Fotos van die troudag geneem deur: Lynette vd Bijl

𝐋𝐮𝐢𝐬𝐭𝐞𝐫 𝐰𝐞𝐞𝐫 𝐡𝐢𝐞𝐫:

 

Vir al die fotos volg die skakel: Fadi en Antonette, 19 Februarie 2020

Deel hierdie artikel

Leave a Reply