Dorinda (46) en haar seuntjie het met net ‘n tas uitgestap toe haar huwelik verbrokkel. Sy het vir ‘n tyd lank as karwag gewerk om doeke en kos te kon koop en toe later werk gekry. Sy was aanvanklik elke dag van 05:00 tot 20:00 op die pad tot sy en haar suster, by wie sy gaan bly het, kon nader trek. Ongeveer 4 maande gelede het Dorinda siek geword by die werk en haarself hospitaal toe gejaag. Sy is gediagnoseer met hartversaking en die dokters het gesê sy het dalk so 5 jaar oor om te leef. Sy gebruik verskillende medikasie en moet minimum 2 dae per maand by die hospitaal wees, maar sy kla nie. Dit was egter ‘n skok toe sy einde Oktober hoor die maatskappy vir wie sy werk kan haar nie langer betaal nie. Sy is retrench in ‘n baie moeilike tyd wat niemand regtig mense aanstel nie en haar siekte maak dit ook vir haar moeilik om ander werk te kry. Hulle sit een aand om die tafel om planne te beraam. Haar suster se salaris is nie genoeg vir hulle twee en hulle 3 kinders (9, 14 en 15 jaar oud) se behoeftes nie. Sy besluit toe om met die geld wat sy het voorraad te koop om muffins te bak en vra ‘n werklose vriend om saam met haar by die verkeerslig te staan vir veiligheid. Op dié manier kon hy ook iets verdien. “Die muffins wat ek nie verkoop nie gaan deel ek uit aan die mense op straat in my area. Hulle weet al as hulle my en my seun sien kom dat hulle ten minste ‘n muffin sal kry en maak dadelik oop om te eet. Ek soek steeds werk, maar intussen help ek myself, my werklose vriend en selfs ‘n paar mense op straat wat net ‘n muffins ‘n dag eet.” Met ‘n bydrae van een van ons GROOTfm 90.5 kollegas kon ons 70 muffins by Dorinda koop vir ons Kersete vandag by Huis Phyllis Robertson. Sy het die bokse waarin dit gepak was spesiaal met kerspapier oorgetrek en iemand by die mark het vir haar aarbeie gegee om tussen die muffins te pak. Een van ons kollegas het ook ‘n verdere R2000 vir Dorinda geskenk. “My seuntjie verjaar die 4de Desember. Ek is so dankbaar om vir hom ietsie te kan koop. Ek gaan heel moontlik nie hier wees om my seun te sien man word nie, maar ek hoop ons liefde sal hom die krag gee om te word wie ek glo hy kan wees.”
Vir al die fotos volg die skakel: Dorinda se muffins – 26 November
Deel hierdie artikel