You are currently viewing #JouMenseMyMense Karwagte

#JouMenseMyMense Karwagte

Deel hierdie artikel

Elke week koop Lindie Strydom by Monumentpark Superspar die blommetjie, geskenk of sakkie kruideniersware waarmee sy iemand gaan verras as deel van ons #JouMenseMyMense projek in samewerking met SPAR. Sy het eintlik al ‘n nie-amptelike staande afspraak met die vriendelike karwagte in die parkeerarea wat weet dat sy iewers deur die loop van ‘n Dinsdagoggend die inkopies sal kom doen. Hulle luister self getrou Groot FM 90.5 oppad werk toe en terug en is daarom altyd gretig om te help inpak en om te hoor by wie Lindie hierdie keer gaan kuier, en dan vertel Lindie vir hulle die storie! Vanoggend was ou Nico, Hendrik, Willem, Francois, Oom Thys, Gerda en die res van die span totaal uit die veld geslaan toe dit hulle beurt is vir ‘n verrassing! Danksy ons vriende van SPAR kon Lindie vir elkeen van die 10 karwagte bederf met ‘n sak kruideniersware. Terwyl ons deur die parkeerarea loop om almal se pakkies uit te deel en met Su-an Müller-Marais op lug gesels, hoor Tannie Una van Pierre van Ryneveld dat ons by “haar mense” is. ‘n Paar minute later stop sy by die SPAR om persoonlik te kom vertel wat hierdie manne en vroue al vir haar beteken het. Toe sy van Heidelberg af verhuis het na Pretoria het sy niemand geken nie. Die karwagte was meer as net ‘n vriendelike gesig wat ‘n handjie bygesit het om te help met haar pakkies. Hulle was haar geselskap, haar mense en is vandag nog haar maatjies. So ook die tannie wat nou-nou vir Nico vertel het van haar seun se huis in George wat afgebrand het. Al kan Nico niks doen om dit vir haar beter te maak nie, is hy en sy mense – ons mense – daar om te dien met ‘n oor wat altyd bereid is om te luister…

Deel hierdie artikel