You are currently viewing #JouMenseMyMense 20Nov2018 Omgee-Flashmob vir Ilse-Marie

#JouMenseMyMense 20Nov2018 Omgee-Flashmob vir Ilse-Marie

Deel hierdie artikel

André en Ilse-marie van Huyssteen het op 8 Augustus 2018 by vriende van hulle in Pretoria gekuier toe die jacuzzi, waarin André ontspan het, se boiler ontplof het. ‘n Stuk hout van die dek het André teen die kop getref en so diep binnegedring, dat dit eers die volgende dag tydens ‘n operasie verwyder kon word. Hy was vir ‘n geruime tyd in die waakeenheid, het wakker geword, maar was nie by sy volle bewussyn nie. Oor ‘n tydperk het hy infeksies opgedoen en ‘n terugslag gehad en is toe ongelukkig op die 6de November oorlede. Die begrafnis was Vrydag 16 November. André wou hê Ilse-marie moet by die huis wees vir hulle twee seuns, Dwayne (9) en Dandré (4), so hy was die enigste broodwinner. Ilse-marie het hom gehelp met sy aanlyn besigheid wat luidsprekers verkoop. Oral probeer mense nou help met van werk soek tot om die besigheidjie weer op die been te kry. Ilse-marie se ouers is oorlede en André se pensioenaris pa reël ‘n gholfdag om fondse bymekaar te maak vir Ilse-marie en die kinders.

Op 20 November 2018 het Ilse-marie drie van haar vriendinne by #CaffeFrescatti in Brooklyn Mall ontmoet. ‘n Span van 18 mense het skelm by die tafeltjies om hulle, posisie ingeneem en gewag dat Su-an Müller-Marais uit die ateljee bel. Ons wou simbolies vir Ilse-marie wys hoe vreemde mense wat van haar gehoor het, uit alle rigtings kom om te probeer help… Een vir een het hulle opgestaan en nader gestap met ‘n koevertjie in die hand en dit dan voor haar neergesit: “Caffe Frescatti het die ontbyt vir julle geborg…” “Ons vriende van #SPAR gee graag vir jou ‘n geskenkkaart vir kruideniersware…” “’n Anonieme borg wil graag betaal vir die herstel van jou Bakkie sodat jy hom ook kan inspan in jou besigheid of vir aflewerings vir ‘n ekstra inkomste…” “Iemand wat omgee, skenk vir jou twee goeie tweedehandse skootrekenaars vir jou werk of besigheid en ‘n playstation vir jou kinders saam met 17 games…” Moeggesukkel se spysenieringspan het reeds al die platters vir die begrafnis gemaak “maar,” sê Jacques Papenfus, “ons wil ook help met die herstel van jou ander voertuig sodat jy hom dalk kan verkoop om te help met van die onvoorsiene uitgawes…” “’n Anonieme borg wil graag jou kragrekening betaal vir die volgende 3 maande…” “En vir Dandré se kleuterskool (R4500)…” “En vir die huur van jou huis vir die volgende 3 maande (R16 200)…” “En dan die bedrag afrond na R30 000 met ‘n verdere R4700 skenking wat jy kan gebruik hetsy vir kruideniersware of ‘n kersgeskenkie vir die kinders…”

Baie, baie dankie vir almal wat hierdie groot geskenk ter waarde van ongeveer R45 000 moontlik gemaak het en sommer net hulle arms om Ilse-marie kom gooi het sodat sy die liefde en omgee van ‘n hele gemeenskap in hierdie baie moeilike tyd, aan haar lyf kon voel.

Luister hier hoe dié “Omgee-Flashmob” regstreeks op lug geklink het:

Klik hier om na die fotos te kyk!

Deel hierdie artikel