Ons het die afgelope week Internasionale Onderwyserdag gevier, maar moes wag tot die skole weer open om dit saam met ‘n baie spesiale onderwyseres te kan vier.
34-jarige Deirdré wei haar lewe daaraan toe om kinders se kennis te verryk! Sy is ‘n voltydse onderwyseres by Suiderbergskool, maar ook ‘n voltydse Mamma van ‘n energieke, “smarty-pants” ses-jarige seuntjie, Lehan. MAAR – 9 maande gelede is Deirdré met Multipel Sklerose (MS) gediagnoseer. MS is ‘n outo-immune siekte wat die sentrale senuweestelsel aantas. Ongelukkig het hierdie siekte reeds letsels gelaat op haar brein en haar rugraat, met ‘n impak op die gebruik van haar regterhand en regterbeen asook ‘n kroniese migraine as gevolg van die senuwee agter haar regteroog. Haar sussie, Lenica raak sommer kwaai as mense sê, maar “Deirdre lyk so gelukkig en of alles ok is.” “Sy is NIE ok nie! Selfs net die kleinste takie verg geweldige inspanning. Sy voer daagliks ‘n stryd met vertigo en lighoofdigheid, vog op haar brein, gehoorverlies, lamheid in haar arms en bene veral aan die regterkant, intense moegheid, sy sukkel om te sluk en verstik as sy water drink, haar vel jeuk en haar visie blur, sy het kroniese koors en kroniese nek en rugpyn – haar laaste MRI scan het gewys dat 3 van haar nekwerwels gedisintigreer het. Maar, moet asseblief net nie vir haar jammer voel nie! Sy hou niks daarvan nie! Sy het wel almal se liefde en ondersteuning nodig.” Saam is hierdie twee sussies nou op ‘n missie om ‘n stem te gee aan hierdie siekte waarvan ons eintlik so min weet en om die gebrek aan ondersteuning en voldoende inligting in Suid-Afrika te verander! Die goeie nuus is dat daar ‘n tipe stemseloorplanting is wat kan help, maar dis duur… Almal woeker kliphard om die R100 000 wat Deirdré nodig het, in te samel! En waar die res van ons uitsien na die somerhitte, beteken dit vir Deirdré dat die simptome en newe effekte van haar MS sal vererger. En tog is sy elke dag op haar pos as juffrou! Ons het briefies uit verskillende oorde ontvang wat sê: “Deirdré is ‘n inspirasie vir ons almal! Sy oordeel en kla nooit, sy oorval mense met liefde, sy aanvaar mens vir wie jy is, vier jou uniekheid saam met jou, maar meeste van alles bly sy die Here loof deur al haar storms….” ‘n GROOT(fm) dankie aan ons vriende van #SPARNorthrand en spesifiek Monumentpark Superspar vir Deirdré se bederfpakkie!
Klik hier om na die fotos te kyk!
Deel hierdie artikel