You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Juander se nuwe glimlag

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Juander se nuwe glimlag

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Juander se nuwe glimlag

Toe GROOTfm 90.5 in Daspoort by Juanita en Alex Stander se huis opdaag, was Juanita se oë groot en haar woorde min. Sy was uit die veld geslaan om die JouMenseMyMense-span, saam met Suzanne de Beer van Blissful Cleft Foundation by die buitehek te ontvang. Haar man, Alex, het wel geweet van die verrassing.

Juanita se werkskollega, Nicole Bowels het vir ons ‘n epos gestuur waarin sy vertel van Mamma Juanita wat in mismoed gedompel is oor haar twee-jarige seun, Juander se gesplete lip en verhemelte. Dat hulle al alles probeer het om vir hom ‘n afspraak vir ‘n operasie te reël – met geen lig aan die einde van hierdie donker tonnel nie.

Juanita en Alex het ‘n ruk gelede by Blissful Cleft Foundation aansoek om hulp gedoen namens Juander, en vir ‘n konsultasie gegaan. Toe ons die epos ontvang, en die versoek deurstuur na Andrea en Suzanne, het hulle met ons meegedeel dat hierdie naam bekend klink…Dit was omdat die lieflike gesin reeds by Dr Naidoo was vir ‘n konsultasie, en dat hy op die kortlys is. Sy operasie is intussen goedgekeur.

Suzanne, wat saam met ons by die Stander-gesin gekuier het, het ook met ons meegedeel dat ‘n ander organisasie die verskil-bedrag wat benodig word vir die operasie, spesifiek aan die Stander-gesin geskenk het.

Ons het die voorreg gehad om vir Juanita, Alex en Juander ‘n R1 500 SPAR-geskenkbewys te gee. Die GROOT nuus het gekom van Suzanne de Beer, wat Blissful Cleft Foundation verteenwoordig het. Juander word op die 24ste Maart geopereer – die eerste stap en proses na sy splinternuwe glimlag. ‘n GROOT dankie aan Blissful Cleft Foundation vir die GROOT verskil wat julle maak.

Die Stander-gesin se stemme was stil, en Juander se gebroke glimlag breed. Hy kon die opwinding en verwagting aanvoel, nie eers te praat van Mamma en Pappa se groot verligting en vrede nie. Liewe Stander-gesin, ons bid vir julle vir die 24ste Maart. Vir elke mediese personeellid wat op hierdie jou herstelpad saam met jou begin. ‘n Dag na jou tweeling sussies – wat net na hul geboorte oorlede is – se vierde verjaarsdag. Ons beaam Mamma Juanita se verwysing na die betekenisvolle verwysing. Liewe Juander, selfs met jou gebroke glimlag het jy ons harte laat smelt. Ons kan nie wag om te sien wat jy met jou splinternuwe een gaan doen nie. Bo alles, die stem agter die glimlag, wat gaan getuig van die Here se goed- en getrouheid.

Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply