You are currently viewing #JouMenseMyMense Saam Met SPAR – Jakes en Anna de Vos

#JouMenseMyMense Saam Met SPAR – Jakes en Anna de Vos

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense Saam Met SPAR – Jakes en Anna de Vos

As jy ‘n ‘scooter’ op die N4 stoot met jou CV agterop, en jou kinders en vrou weet nie daarvan nie…

Dit was ‘n baie emosionele oomblik toe Jakes de Vos met ons meedeel dat hy hierdie vanaf verlede jaar doen net nadat hy sy werk by ‘n suksesvolle kontrakteursmaatskappy verloor het – as gevolg van die inperking.

Jakes de Vos en sy vrou, Anna, woon al vir die afgelope agt jaar in Jopie Fourie straat in Wolmer. Jakes moes noodgedwonge sy voertuig verkoop om vir sy gesin van 5 te sorg – drie seuns en twee dogters. Nadat hulle die voertuig verkoop het, het iemand ‘n tweede-handse ‘scooter’ aan Jakes verkoop. Die ‘scooter’ het intussen onklaar geraak.

Vier van die vyf kinders is reeds uit die skool uit, maar hulle jongste dogter, is tans in laerskool Danie Malan, met pappa Jakes wat elke oggend saam met haar skooltoe stap.

Jakes en Anna is al vir 26 jaar getroud. Hy deel met ons dat die pastoor destyds met hulle troue gesê het: ‘Julle is aanmekaar gegom, niks gaan julle breek nie’. En vandag, na alles waardeur hulle is, kan hulle van hierdie gom getuig.

Jakes se hulpkreet het ons bereik – waarin hy nie pleit vir geld nie, maar vir ‘n vaste werk. Hy het daagliks al die pad van Wolmer na Silver Lakes area toe geloop en sy ‘scooter’ met sy CV agterop gestoot, ‘want dis waar daar baie kontrakteurs is’. Hy het in die afgelope paar maande meer as 70 CV’s met die hand, te voet, uitgedeel.

Anna werk tans nie, want sy kyk na hulle kleinkind, Heino. Heino is die seun van haar dogter Varuschka en aanstaande skoonseun, Hein. Hulle het beplan om verlede jaar te trou, maar as gevolg van die pandemie het hulle onbaatsugtig besluit om eerder hulle ouers finansieel te ondersteun. So help Ouma Anna haar dogter terwyl haar kinders voldag werk, deur na die amper 1-jarige Heino om te sien.

Jakes en Anna se trane lê vlak soos hulle ons met desperaatheid dog soveel nederigheid vertel waardeur hulle is. Dat hulle gedink het die Here het van hulle vergeet. Jakes het buiten die moeite wat hy doen om sy CV sigbaar te maak, ook herwinbare materiaal uit asblikke versamel, wat hy kon inruil vir geld – weereens, sonder dat sy vrou en kinders daarvan weet.

Ons het na die naaste SPAR toe gery, en vir hulle kruideniersware gekoop. Hulle laaste (en enigste) ete was die vorige dag – ‘n kaas en tamatie toebroodjie. Nadat ons die kruideniersware ingedra het, het Jakes gevra of hy vir ons kan bid. Hy het vir die Here gesê: ‘Dankie dat U nie van ons vergeet het nie…Here, U weet hoe lank terug hierdie huis hierdie hoeveelheid kos gesien het. Seën hulle, mag al hulle drome waar word.’ Hierdie woorde en oomblik van dankbaarheid sal ons nooit vergeet nie.

Liewe Jakes en Anna, wat ‘n voorreg was dit nie vir ons om fasiliteerders van Sy lig te wees nie. Om daar te kon wees toe die Here hulle herinner het dat Hy hulle nooit sal verlaat nie. Ons glo met ons hele hart, Jakes, Anna en julle pragtige familie, dat Hy vir julle, soos met hierdie herinnering, ook ‘n uitkoms sal gee. ‘n Radikale verandering in julle omstandighede en lewens. Sodat julle ook, aan ander wat dink Hy het hulle verlaat, kan getuig en bevestig dat Hy vir ons almal dieselfde lewe in oorvloed belowe.

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply