#JouMenseMyMense saam met SPAR – Moedeloos, maar nie hoop(e)loos nie!
Terwyl ons gesels met ‘n mamma en vrou wat tans baie swaar dra, omsien na vyf familie-lede en opofferings ten koste van haarself maak, sit ‘n pappa en huil, ‘n skoonma wat ondersteun, haar eie ma wat bedlêend is as gevolg van dementia en diabetes, en ‘n 12-jarige wat vir sy eksamen leer…Ashleigh van Dyk het ‘n hulpkreet aan ons gerig nadat haar man, Etienne, nie net sy werk tydens Covid verloor het nie, maar sy eie besigheid moes prysgee nadat hy twee beroertes gely het. GROOTfm 90.5 het gaan kuier…
Ashleigh van Dyk, haar man Etienne, hulle seun Owen, skoonma en Ashleigh se ma is in nood gedompel. Ettiene, wat die broodwinner was, vat elke dag stap vir stap in sy pad na genesing na hy in September-maand vier beroertes gely het. Hulle mediese onkostes strek bo R90 000, maar hulle het ‘n dak bo hul koppe. Vyf mense is afhanklik van hierdie veilige vesting, en hulle huur is ook agterstallig.
Ettiene het al baie vordering getoon, en loop nie meer met sy kierie nie. Dokters-verslae toon ook geen tekens van brein- of permanente skade nie, alhoewel hy weer van voor af moet leer loop en praat. Hulle ontdek vier bloedklonte. Ons is dankbaar vir Ashleigh se inkomste, wat skaars die maandelikse elektrisiteit en kruideniersware kan dek. Sy is moeg en moedeloos, maar verklaar die heeltyd dat “die Here in beheer is”. Hulle gesin is ‘n gelukkige gesin, en hulle besef die pad na genesing en herstel is nog lank. Hulle is dankbaar vir mekaar, vir elke mens wat deelvorm van hulle ondersteuningsnetwerk.
Tweemaal per week is daar ‘n fisioterapeut wat Etienne kom sien en stuk-stuk sy spierwerking en koordinasie rehabiliteer. Ashleigh sê hulle seun, Owen, is ‘n regte ‘champ’. As hy net die omvang en krag van sy storie op hierdie jong ouderdom kan besef. Hy sal nog. Pappa Etienne voel weerloos, en raak kort-kort emosioneel. Ons sien die trane wat vloei oor sy wang, en is sy grootste wens is om weer vir sy geliefdes te sorg.
GROOTfm 90.5 kon, met behulp van SPAR, vir die gesin ‘n R1 500-geskenkbewys gee. Danksy ‘n skenking van Vryheid Koffie Kompanjie, kon ons vir die gesin help met ‘n R2 500-elektrisiteitsbewys, en finansiële steun van ons GEEmeenskap, die Van Dyk-gesin ‘n asemskep geleentheid gun met die betaal van hulle agterstallige November-huur en huur vir die maand wat kom.
Liefste Ashleigh, Etienne, Owen, Skoonma Aletta en Ma Lizzy…ons bid vir julle ‘n spoedige herstelpad toe. Ons weet ook, Sy tyd is nie ons tyd nie, maar ons weet, ons God is getrou. Julle sal almal nog die gewaarwording van Sy beloftes sien en beleef. Wanneer hierdie dag kom, sal julle dit omhels, en besef Sy guns en goedheid het julle nog nooit verlaat nie. Dankie, Ashleigh, vir die mamma, vrou en dogter wat jy is. Vir jou onbaatsugtige opofferings, ten koste van jouself. Ons bid vir bonatuurlike krag om ook jou toe te rus vir dit wat voorlê. Ons vertrou en glo saam met ‘n GEEmeenskap, dat ‘n uitkoms en radikale keerpunt net om die draai is. En dat, Etienne, jou bloed weer sal vloei soos Sy Lewende Water, met GEEN meer bedreigings van enige bloedklonte nie.
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: