Altesaam 400 handsakke met 16 verskillende items is gedurende Augustus in slegs 2 weke ingesamel vir Lynné de Jager, Menlopret Kleuterskool, Bella Tydskrif en GROOTfm 90.5 se #handsakvolliefde Vrouemaandprojek! ‘n Konserwatiewe skatting van die waarde van die pragtige handsakke met verskillende items wat van parfuum en ‘n serp, tandepasta en ‘n tandeborsel, ‘n waslap en seep, spuitgoed en roll on, lip ice en kougom en tot ‘n haarborsel, hand sanitizer en lyfroom insluit is ongeveer R350 elk, wat beteken dat verskillende vrouens, elkeen met haar eie storie en rede, binne 14 dae R140 000 se items ingesamel het! ‘n Tannie van 87 het so gou as wat sy gehoor het van die projek weggetrek en 3 snesiehouers per dag gebrei. Sy kon 24 van hulle betyds klaar maak. ‘n Ander vrou het vertel hoe die pak van haar 3 handsakke haar gehelp het om, na 2 jaar se wag en probeer, die hartseer en teleurstelling van ‘n miskraam, item vir item weg te pak…
Die eerste 100 handsakke is tydens ‘n spesiale Vrouedag funksie by Booysens Beertjies vir die mammas en personeel van hierdie skool geskenk. Die kinders kon vir mamma help om ‘n handsak uit te kies. Een van die mammas wie so stukkie van haar seer met ons gedeel het, se 4 jarige seuntjie het sommer geweet sy mamma kort blomme en tussen al die ander sakke op die tafel, het hy die geblomde een vir haar uitgesoek.
Die boodskap, so saam met hierdie verrassing, was dat elke vrou ‘n “handsak vol wonderlike dinge” van die Here ontvang het. Dis ons werk om die items daarin te gaan ontdek en dan kreatief te gebruik om ons eie wêreld, maar ook die vaal wêreld om ons kleur en geur te gee! Jacques Jones van Monumentpark SUPERspar het vir ons 6 platters met heerlike soethappies geskenk en die Menlopret kleuters het gesorg dat elke Beertjie maatjie ook ‘n sakkie vol bederf kan huis toe vat.
Nog van die plekke waar die handsakke uitgedeel was, sluit in Pikanini Kleuterskool in Wolmer en die personeel van Yabana in Soshanguve, ‘n sopkombuis, informele nedersetting en 2 vroue wagte by ‘n laerskool in Pretoria-Oos.
‘n GROOTfm 90.5 dankie vir elke vrou wat in liefde ‘n stukkie van haarself vir ons #handsakvolliefde projek gegee het!
Klik hier om na die fotos te kyk!
Deel hierdie artikel