You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Tannie Triena – 26 Maart 2019

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Tannie Triena – 26 Maart 2019

Deel hierdie artikel

Toe ons om die hoek kom met die bos blomme en geskenksakkie vol bederf om vir 79-jarige Tannie Triena by haar huis te verras, is sy aan die werk in die kombuis – presies soos haar dogter Cornel se briefie vertel het. Sy doen steeds alles self, maar dié wat haar goed ken sal weet, die laaste 7 jaar het aan haar lyf gevat… Dit het begin by haar man wat sy tot die dag van sy dood in September 2012 tuis versorg het. Hy het Alzheimers gehad en nie meer geweet wie sy is nie, maar sy het alles vir hom gedoen. Vyf jaar later – ook in September, is haar oudste seun Gerhard oorlede aan ‘n hartaanval. Hy het ‘n vergrote hart gehad en ook hom het sy tuis versorg tot 2 dae voor sy dood. Vandag woon haar twee dogters by haar. Cornel wat blind is, het haar werk verloor in 2010 en haar jonger sus, Carien is April laas jaar met ‘n aggressiewe pankreaskanker gediagnoseer. Carien is ‘n gekwalifiseerde verpleegster wat self met kankerpasiënte gewerk het. Sy het aanvanklik vir die chemo-behandeling gegaan, maar dit het haar so siek gemaak dat sy besluit het om die behandeling te stop om eerder kwaliteit tyd met haar familie deur te bring. Ook hulle jongste boetie, MJ het al prostaatkanker gehad en kry epileptiese aanvalle as gevolg van die blasie op sy brein en ousus Wilna het Desember gehoor haar man se werk verplaas hulle oorsee. Tannie Triena is deur al die jare die sterk en konstante steunpilaar vir haar 5 kinders, 4 kleinkinders en 1 agterkleinkind. Sy luister aandagtig terwyl ons Cornel se briefie lees: “Maak nie saak hoe siek of gesond my ma voel nie, sy is altyd daar vir ons. Sy sal niks slaap, as sy net weet ons is ok! Ek weet sy is moeg… en sy is so besig om almal om haar te help dat sy nooit aan haarself aandag gee of ietsie vir haarself koop nie. Al wat ek vra is ‘n klein bederf wat vir haar wys hoe dankbaar ons vir haar is…” Ons vriende van #SPAR het gesorg dat ons al Tannie Triena se gunstelinge inlaai, van Hertzoggies tot sjokolade, maar met ‘n boodskap wat soveel groter is as die soetgoed en blomme, dagstukkieboek en koevertjie met kontant… Dis ‘n gebaar wat sê ons sien raak en ons waardeer en ons vier haar lewe en bydrae hierdie kant van die ewigheid waar ons persoonlik vir haar kan dankie sê! “Watter ma sal dit nie doen nie”, is haar eenvoudige antwoord. “Solank julle weet ek kan niks doen sonder elke dag se krag van Bo nie.” Almal kry weer ‘n drukkie soos ons uitstap en later ook ‘n stemboodskap met nog ‘n stukkie van Tannie Triena se waardering : “Ek was so verbaas, my kop het skoon stilgestaan. Dit was die grootste verrassing van my lewe. Baie, baie dankie…”


Deel hierdie artikel