#JouMenseMyMense – Jacques Havenga, 4 Oktober 2024
GROOTfm 90.5 het verskeie eposse ontvang rakende hulp vir Jacques Havenga. Jacques is 46 jaar oud, en oor die afgelope paar jaar het hy sy sig verloor as gevolg van d Diabetiese retinopatie in albei sy oë. Die verlies van sy visie beïnvloed nie net sy daaglikse lewe nie, maar ook sy vermoë om te werk en sy gesin te onderhou.
Take wat eens eenvoudig gelyk het – lees, bestuur, selfs die gesigte van geliefdes herken – is nou ongelooflik moeilik. Ten spyte van sy beste pogings, het sy toestand vererger tot die punt waar hy so gou as moontlik ‘n operasie moet ondergaan om sy sig te herstel. Die vereiste operasie bied ‘n groot kans om sy sig te herstel, maar sy mediese fonds dek nie die koste ten volle nie. Die totale bedrag vir die operasie, nasorg, en nodige medikasie beloop R360 000.
As ’n entrepreneur en sonkraginstalleerder was Jacques nog altyd trots om by te dra tot die samelewing en sy gesin te ondersteun. Jacques en sy vrou, Marlize het by GROOTfm 90.5 kom kuier.
Hoe help ons?
Ons wil so bietjie verligting saai en help met asemskep. Ons dra graag R10 000 ten bate van sy operasie by, saam met ‘n R10 000-kruideniersware geskenkbewys. Ons weet elke sent word driedubbeld omgedraai aangesien Mamma Marlize nou die broodwinner is, en probeer hulle nog geld spaar om die operasie te befonds.
Luister HIER na die spesiale oomblik:
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Deel hierdie artikel