Martie se German Sheperd, Flekkie keer eers beskermend by die voordeur van haar woonstel voor ons as’t ware sy toestemming het om in te stap. Ons weet nie heeltemal wat om te verwag nie. Amper soos Ria toe Martie daardie eerste dag voor haar huis stop om na die woonstel te kom kyk. Sy kon nie mooi hoor wat Martie oor die foon probeer sê nie. As jy haar ontmoet sien jy eers net haar vriendelike gesig met oë wat lag voor jy besef haar lyf het seer. Sy het daardie dag kort na “aangename kennis” vir Ria en haar man eerlik verduidelik hoe siek sy is en hoe sy sukkel om blyplek vir haar en haar hond te kry. Dit was 6 maande gelede. Vandag voel ons saam met Martie en Flekkie tuis in hulle huisie in Villieria terwyl Ria vertel van hulle vriendskap wat vir haar ‘n daaglikse inspirasie geword het.
Martie se gesondheidstryd het 2 weke na haar geboorte begin toe sy ‘n bloedoortapping moes kry as gevolg van geelsug. Daar was komplikasies wat Atetose meegebring het. Martie se balans, gehoor en spraak is aangetas. Sy is deur skoolmaats en selfs familie gespot en na haar ouers 3 weke uitmekaar aan kanker oorlede is, moes sy die lewe se uitdagings alleen trotseer.
Sy is 29 jaar gelede die eerste keer op 19 jarige ouderdom met kanker gediagnoseer: baarmoederkanker en toe die histerektomie, borskanker en toe die dubbele masektomie net om 3 weke later te hoor die kanker is terug. Later maagkanker tot waar sy die afgelope 4 jaar geen meer vaste kos kan eet nie. In 2016 het sy geval en dokters het gesê sy sal nooit weer loop nie, maar sy het opgestaan. In 2018 het die kanker na haar kliere en die res van haar liggaam versprei en verloor sy die gebruik van haar dominante hand.
Martie is al 2 jaar op siekverlof en verdien net ‘n klein gedeelte van haar salaris. Sy kan eintlik nie meer die huur of die betalings vir haar medisyne bybring nie. Sy is so gewoond om te sukkel – alleen te sukkel…
“Martie het nog altyd die pad alleen gestap,” vertel Ria. “Sy versorg haarself en staan elke oggend op, trek mooi aan, klim in die kar en gaan doen dinge. Sy ry haarself hospitaal toe, gaan gee praatjies en koop vir Flekkie sy kos. Sy het tot laas jaar nog gedans en skryf die mooiste gedigte en musiek. Sy vra nie hoekom nie en sy kla nooit oor die pyn of alles wat verkeerd gaan in haar lewe. Sý is die bemoediger. Ek het my ingedring in haar klein wêreld om te help met klein dingetjies soos om die disprin vir haar uit die foelie te haal of haar hemp se knope vas en los te maak sodat sy weer al haar mooi klere kan dra. Ek het die laptop aan haar TV gekoppel sodat sy kan lê en skryf, want die pyn in haar nek is net te erg as sy sit.”
Die geskenk wat mens eintlik vir Martie wil gee, het jy nie… maar iets op haar wenslysie vang ons oog: “Ek sou so graag wou sien hoe dit agter die skerms lyk op die stel van Binnelanders.” ‘n Vinnige oproep na ons kykNET vriende en die kuier is gereel vir Vrydagmiddag 13:00! As ‘n verdere gebaar van omgee, skenk ‘n anonieme borg R2500 vir Martie se limfdreineringbehandeling en SPAR ‘n geskenkkaart – al is dit vir ‘n bederf vir Flekkie…
Ria en haar dogter Charlise wou nie vra vir hulp nie al weet hulle hoe nodig Martie dit het. “Ons wil net hê sy moet weet hoe spesiaal sy is en dat dit wat sy doen en deurgaan merkwaardig is. Ons wil hê mense wat dink dis tyd om op te gee, moet ’n rede hê om net weer te probeer.”