#JouMenseMyMense saam met SPAR – Geen stut kan haar stuit!
Daar is seker ‘n rede hoekom Dané Steyn met rooi hare gebore is…want aan hierdie vlam en VUUR is daar geen keer nie!
Dané Steyn is slegs ‘n paar weke na haar 13de verjaarsdag gediagnoseer met Adolescent Idiopathic Scoliosis (ICD10 Code: M41.20). Haar ‘kurwe’ van haar T8 tot haar L3-werwel is tans by 55° en die rotasie op haar T11-werwel is by at 32°. In ‘luimens’-terme, grens hierdie graad van skoliose op lewensgevaarlik, siende dat die drukking wat deur die skoliose veroorsaak word, teen Dané se organe kan begin druk, en orgaanfunksie beinvloed. GROOTfm 90.5 het gaan kuier…
Van die oomblik wat ons by hulle huis in Montana ingestap het, het ons gelag. Dané se energie en positiewe gesindheid is aansteeklik, en dit was duidelik dat geen stut hierdie vlam kon stuit nie! Ons was baie dankbaar om te hoor dat die spesialis wat haar tans behandel, haar nie dadelik onder die mes wou sit nie, en eers kans gee om te sien hoe die gebruik van ‘n stut die skoliose verbeter.
Dané moet tans hierdie stut vir 23-uur van die dag dra. Sy moet ook daagliks strekoefeninge doen soos voorgeskryf deur die fisioterapeut, en daar word gereeld X-trale geneem om haar groei te monitor. Sy het haar eerste stut in Februarie vanjaar ontvang.
Soos alle mediese kondisies is die uitgawes geweldig groot. Die Steyn-gesin is dankbaar dat hulle mediese fonds ‘n groot gedeelte van die stut se koste gedek het, en die res van die fondse was as ‘n skenking aan hulle gegee. Mamma Nicolene het ook begin om ‘poppies’ te maak om fondse te genereer. Die verkope het hulle almal verras, en gebruik Nicolene en Dané dit as ‘n tyd waartydens hulle ook kan ‘bond’.
Alhoewel hulle uitgawes vir nou binne bereik is, lê daar nog baie onsekerheid vir hulle as gesin voor. Einde Junie gaan die spesialis ‘n besluit neem of Dané moet aanhou om die stut te dra, óf of hulle moet voortgaan met die operasie. Alhoewel die prosesse en prosedures onsekerheid insluit, is die uitkoms ‘n wen-wen. Dané sal hiervan genees!
Liefste Dané, die oorwinning en einde lê in jou hande. Dieselfde hande wat die Here handgemaak het om jou uitdagings te kan dra en omhels. As ons jou sien, sien ons die woord ‘embrace’ – net toeval dat daar ‘n ‘brace’ ter sprake is. Dankie vir jou positiewe uitkyk, dat jy, van alles wat jy kan kies, kies om êrens in jou ‘journey’ ook ‘n ambassadeur vir en van skoliose te wees, sodat ander nie so bedreig sal voel daardeur nie. Dat jy aan ander, nie net wil vertel dat alles ‘okay’ gaan wees nie, maar wys dat dit kan! Dankie dat jy ons aansteek met jou vuur en vlam. Dis juis hieroor, dat hierdie oorwinning reeds aan jou behoort. Liewe Dané, dis tyd om veldbrande van verskil te veroorsaak! Ons sien uit daarna om hierdie vuur van myle af weg dop te hou!
Die Facebook-blad van mamma Nicolene met al haar goedjies op wat sy maak en verkoop is S & C (Simple & Cute): https://www.facebook.com/S-C-100561291726965/
Loer gerus ook hier na Dané wanneer sy een van haar vele liefdes en talente beoefen – om te sing! https://www.facebook.com/Dan%C3%A9-Steyn-522686874884078/
Fotos: Jislaaik-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: