Die skuifdeur na Marius van Dyk (62) se huis agter die petrolstasie waar hy die afgelope 12 jaar as bestuurder van die karwas en sleepwaens gewerk het, staan oop toe ons daar aankom. Asof mens sommer enige tyd welkom is. Sy kollegas en ook van sy oud-kollegas wat help dra aan die sakke kruideniersware stap in en lyk tuis hier waar hulle vriend op die bank sit. “Ons was die 3 M’e,” vertel Marius as hy ons voorstel aan Martin en Madiba. Annemarie, die eienaar Johan Botha en Piet is ook daar. Piet was eintlik nog altyd daar – werk al 25 jaar by die petrolstasie. Marius is so 3 jaar gelede met hartversaking gediagnoseer. Hy het oor ‘n tydperk geleidelik verswak tot waar hy nou fase 4 is en toe hy onlangs in ‘n ernstige toestand in Steve Biko hospitaal opgeneem is, het een van sy oud-kollegas vir ons ‘n briefie gestuur om te hoor of ons nie iets vir hierdie “ware staatmaker en mentor” kan doen nie. Marius moes ophou werk as gevolg van sy gesondheid en is permanent op suurstof. Sy seun, Jeandré (20) werk ook al van net na matriek saam met hom by die karwas. Skielik moet hulle op een salaris van R3500 per maand en die SASSA pensioen uitkom met baie bekommernis en vrae oor of hulle nog hier sal kan aanbly en hoe hulle die somme sal laat klop. Ons self het nie antwoorde of ‘n vinnige oplossing vir Marius en sy seun nie, maar wou saam met sy mense vir hom wys dat “familie” nie net in die goeie tye bymekaar staan nie. Marius se gunsteling Afrikaanse sanger, Ray Dylan, het vir hom een van sy nuwe CD’s, “Country Vibes” beloof en later ook ‘n mooi stemboodskap vir hom gestuur en danksy ons vriende van SPAR kon ons ‘n gebaar van omgee en tasbare dankie vir soveel jare se diensbaarheid in die kombuis uitpak.
Vir al die fotos gaan loer graag op ons FaceBook blad hier: #JouMenseMyMense – 17 September 2019 – Marius van Dyk
Deel hierdie artikel