LIG Kinderbediening werk die afgelope 12 jaar met die weggesteekte nood en stil swaarkry van behoeftige gesinne van onder andere Danville, Elandspoort en Wesfort plakkerskamp waar inwoners sonder enige elektrisiteit hout kap net om warm water te kry.
Die uitvoerende hoof, Louise Rossouw en haar span het in hulle betrokkenheid by ongeveer 350 kinders en hulle gesinne gou gesien daar is meer as net fisiese behoeftes of selfs die ontwikkelingsagterstande as gevolg van hierdie kinders se moeilike omstandighede. Daar is behoefte aan iemand wat omgee en wat luister. Iemand wat jy net kan bel as jy nie verder kan nie… “As jy nie passie- en roepinggedrewe is nie, sal die hartseer vir jou te veel word,” vertel Louise toe ons by haar in Danville by die Terapiesentrum gaan kuier het.
Op die oomblik sorg hulle vir 130 gesinne met ‘n omgee-pak wat elke Vrydag persoonlik by elkeen se huis afgelaai word. “As daar ‘n bederfie is soos nou die dag se pretzels is dit vir hulle vreeslik lekker. Maar ons pak ook Bybellessies en pretaktiwiteite uit die Bybel saam met bemoedigende boodskappe. Ons sien dit in ‘n ander lig as mense wat net kospakkies vir mense aflaai. Dis eintlik meer ‘n omgee-projek.”
Elke projek is ‘n raakpunt om by iemand se hart uit te kom.
Die Kuierklub vir die tieners word deur plaaslike ouers bestuur en soms kom mense van buite vir ‘n aand om hulle storie te deel. Getuienisse van mense wat self uit die gemeenskap kom, beteken soveel vir hierdie jongmense. Daar is vrywilligers wat bid en finansieël bydrae, maar hulle maak ook moeite om vrywilligers wat in die gemeenskap woon te betrek en hulle spesiale talente te ontdek.
Kinders is die hooffokus, maar elke kind is deel van ‘n gesin en dis hoe die ouerleiding begin het. Op die oomblik stuur Elvira, die arbeidsterapeut vir die mammas inspirerende boodskappe en skakel hulle as daar vrae of nood is, maar data bly maar ‘n probleem.“Die mammas mis die bymekaar kom. Ons maak altyd moeite met ‘n stukkie melktert of ‘n broodjie met iets lekker op. Die saam kuier is ‘n belangrike deel van die groep, voor ons by die formele deel kom.”
Danksy #OneSA se #40actsofkindness kon ons vir LIG Kinderbediening warmwatersakke ter waarde van R9000 skenk. Louise vertel van die kinders wat haar gebel het om te sê hoe lekker dit is om warm te kan slaap.
Baie dankie ook vir SPAR vir die geskenkkaart en vir 79-jarige Tannie Ronel Bassonwat die mooiste truitjies, kouse en musse gebrei het en ook ‘n paar sweetpakke gemaak het vir die kinders van Lig Kinderbediening. Mag julle hierdie dierbare tannie se liefde aan julle lyfie voel…
𝙇𝙪𝙞𝙨𝙩𝙚𝙧 𝙬𝙚𝙚𝙧 𝙝𝙞𝙚𝙧:
Vir al die fotos volg die skakel: #JouMenseMyMense saam met SPAR – LIG Kinderbediening
Deel hierdie artikel