Met tot 11 mense wat saam in ‘n huisie van plastiek en karton bly, kan mens verstaan hoe ‘n kers per ongeluk omval en 79 shacks binne oomblikke tot op die grond afbrand om meer as 400 bitter behoeftige mense, waarvan baie enkelma’s met klein kinders, sonder ‘n heenkome of enige beskutting teen die winterkoue te laat.
Dit is presies wat Saterdagoggend vroeg in die informele nedersetting in Pretoria-Oos, Plastic View, gebeur het. Soos Sanet Fagan van SA Cares for Life sê dit bly ‘n wonderwerk dat niemand dood is nie.
Teen 9 uur die oggend is die eerste skenkings by Moreleta Gemeente afgelaai. Vrouens van die gemeenskap wat nie geraak is deur die brand, het kom help sorteer en pak terwyl van die mans houtpale gaan kap het wat vervoer is danksy ‘n ander donasie.
Soos ons instap by die kamp sien ons ‘n ma met haar twee kinders, netjies aangetrek vir skool. Hulle is een van die gesinne wat alles verloor het, maar die skool het gehelp met klere vir die kinders en daar is nie tyd vir bly lê nie.
Ons hoor die dankbaarheid vir elke blikkie kos en kombers, maar voor jou is ‘n hartseer prentjie van verslae mense wat weereens van vooraf moet begin… Hier eenkant lê ‘n hoop “springs” van wat voorheen matrasse was, jy sien ‘n hopie sinkplaat en hoor dan dis iemand wat daar slaap die laaste paar nagte net om nie sy staanplek te verloor nie. Selfs die honde bly net lê op die as. Ons sien ‘n ma wat rondstap met haar 18 maande oue baba wat voorheen kon kruip en loop en hoop dat iemand vir haar antwoorde sal hê oor hoekom sy nie meer kan nie… Daar is nie tyd vir skoon skraap en oor begin nie, want vanaand se koue wag so die vertrekkies word afgemeet en pale ingekap met almal wat op ‘n manier inspring om te help – van buite met skenkings en donasies, maar ook van binne, vir mekaar. Mense maak plek in hulle reeds baie klein huisies om nog ‘n ma en kind in te neem terwyl ander help kap, kook of bou.
‘n Anonieme borg het R10 000 geskenk. Ons kan skaars die woorde uitkry, want die werk wat voorlê is so groot en die groter geveg om te bepaal wat van hierdie mense gaan word, duur steeds voort na soveel jare… Almal betrokke soek steeds daardie permanente oplossing, maar intussen staan die groot kastrolle op die vuur, want soveel mense het reeds so hard gewerk om die kinders gesond te hou tot hier en ook hulle het nie tyd om nou te bly lê nie…
Indien jy dalk nog ‘n bydrae wil maak, kan jy dit elke oggend 10uur by die containers by die ingang van Moreleta Gemeente aflaai of maak gerus kontak met Sanet Fagan – sanet@sacares.co.za – die besonderhede ook nou op ons Facebookblad.
𝙇𝙪𝙞𝙨𝙩𝙚𝙧 𝙬𝙚𝙚𝙧 𝙝𝙞𝙚𝙧:
Vir al die fotos volg die skakel: #JouMenseMyMense – Brand in Plastic View, 22 Julie 2020
Deel hierdie artikel