You are currently viewing #JouMenseMyMense – Alida – 29 Oktober 2019

#JouMenseMyMense – Alida – 29 Oktober 2019

Deel hierdie artikel
Toe Alida (46) saam met haar kollega by die huis waar sy ‘n buitekamer huur, stop, het sy dadelik die gesigte van die GROOTfm span wat op die sypaadjie vir haar wag, herken. Sy bly eers ‘n rukkie in die kar sit en dan loop die trane soos sy uitklim en nog een van haar kollegas sien nader stap. “Hulle het vir my ‘n kans gegee,” sê Alida dankbaar van hierdie twee mense saam met wie sy die laaste 3 maande werk. En hulle het nie net haar kollegas geword nie, maar ‘n ondersteunende familie wat graag wil sien dat sy weer op haar voete kom. Alida was 12 jaar lank verloof aan die pa van haar 10-jarige dogtertjie. Toe hulle verhouding verbrokkel weens finansiële omstandighede het hulle saam besluit dat die dogtertjie by haar pa sal bly. “Sy was gelukkig in die skool en haar pa het ‘n kar, huis en salaris gehad om vir haar te kan sorg. Ons was nie getroud nie so ek kon niks van hom vra nie. Ek het uitgestap met die klere aan my lyf, ‘n paar borde en ‘n pan.” Alida het by haar ma (70) in ‘n karavaan naby Hartebeespoort gaan bly. Sy het ook ‘n seun (21) wat geweldig sukkel met sy emosionele gesondheid. Hy het ondere andere maniese depressie en was tot ‘n maand gelede vir 6 maande lank vir spesiale behandeling. Alida het besluit om nader te trek aan waar haar dogtertjie is. “Ek kan nie vir iemand die pyn beskryf nie. Ek mis uit op soveel dinge! Ek het haar nie gelos nie. Ek kon haar net nie wegvat van haar skool en maatjies nie.” Alida en haar seun bly tans in hierdie buitekamer met ‘n stort en toilet, twee-plaat stofie en een pot. Ons sien die dun matrassie op die grond toe ons die kruideniersware van SPAR vir haar help indra. Almal kry oor en oor ‘n dankie-drukkie. “Ek betaal nog af aan die deposito en probeer steeds my ma ook help, so kos gewys het ek nie veel gehad nie…” Omdat sy nie ‘n yskas het nie en dag vir dag kos moet koop, werk dit haar ook duurder uit. Sy loop kafee toe om melk te koop, maar die volgende dag is dit af. Die ekstra verrassing word aanvanklik eers weggesteek in Anton Smit se kombi. Hy is die voorsitter van Helpende Hand se Centurion-tak en ook saam met sy vrou aan die stuur van die “Ons Winkel” op Bothalaan in Centurion. Die verskillende “Ons Winkel” takke van Helpende Hand versprei skenkings na onder andere behoeftige skole en tehuise, maar vandag is hulle die borg van ‘n klein yskas wat perfek in Alida se buitekamer pas. Sy is meer as net dankbaar. Sy is opgewonde en gemotiveerd. “Ek wil myself terugkry… Vir myself en my kinders! Elke dag is ‘n nuwe dag wat die Here ons gee en ek wil dinge beter maak in my lewe sodat ek in staat kan wees om ook meer tyd met my dogtertjie te kan hê. Ek wil ook eendag hierdie vir iemand kan doen. En ek dink ek is amper daar…”
Vir al die fotos volg die skakel: Alida – 29 Oktober 2019
Deel hierdie artikel

Leave a Reply