You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Anonieme tannie se kosskenking, 30 September 2020

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Anonieme tannie se kosskenking, 30 September 2020

Deel hierdie artikel
#JouMenseMyMense saam met SPAR – Anonieme tannie se kosskenking, 30 September 2020

Vir die afgelope paar maande kom stop ‘n tannie en haar dogter gereeld by ons kantoor. So stil-stil en sonder om te sê wie hulle is, laai hulle kruideniersware af. Tannie Wilna by ons ontvangs sê sy weet nie wie dit is nie, kan net sien die vrou loop self swaar, maar klokslag elke maand is hulle daar met ‘n skenking – genoeg om te kan deel, met meer as een gesin.
Elke item is so versigtig gekies, van kerse vir lastige kragontbrekings of vir huise waar daar net eenvoudig nie geld is om die kragrekening te kan betaal nie, tot waspoeier, skoonmaakmiddels, tandepasta en roll on – eenvoudige dinge so vanselfsprekend vir my en jou, maar wat vir iemand anders ‘n waardigheid gee wat net so nodig is soos die brood, olie en meel, soppoeiers, sout, pasta en blikkies kos.
Terwyl ons die bokse uitpak en verdeel, glimlag ons oor die koeldrank en ook aanmaakkoeldrank wat hierdie keer in die pak is. Daar is twee gesinne met klein kinders na wie hierdie skenking toe gaan en ons kan net dink hoeveel hulle die bederf van koeldrank sal geniet.
Die eerste gesin se briefie lees: “My vrou mag nie werk nie, want sy is ‘n Weskoppies pasiënt. Ek werk, maar kry ‘n klein salaris en ons kan nie kop bo water hou nie. My seuntjie is 11, hy het nie klere nie en ons het nood vir kos groot asseblief.”

Ons hart is altyd by die kinders en in hierdie tyd by gesinne wat as’tware deur die krake val. Hulle was dalk nooit voorheen hulpbehoewend of op ‘n databasis iewers vir ‘n gereelde kospakkie nie, maar COVID-19 het die somme om die sente te probeer pas, finaal laat flop. Ons anonieme tannie se kruideniersware kry sy eerste ontvanger.

Ons tweede stop is ‘n mamma met twee kinders – ‘n dogtertjie in Graad 3 en ‘n boetie in Graad 1. Die boodskap wat ons gekry het, vertel dat die dogtertjie laas week een oggend vir die Juffrou gaan vra het of die tannie van die voedingskema dalk al by die skool is, want sy het die vorige dag pouse laas iets geëet. Sy wou hoor of sy nie dalk vandag se broodjie so bietjie vooruit kan kry nie, want sy is regtig baie honger.

Hierdie mamma ken ons van geen kant af nie en tog was sy bereid om ons in te nooi – in haar huis, in haar lewe en selfs in hulle swaarkry om soos Trevor Hudson sê te “tip-toe upon the holy ground of other people’s suffering.”

Vandag sê ons dankie vir ‘n tannie en haar dogter en ook ons vennoot, SPAR wat ons elke week vertrou om hulle geskenk op die regte plek aan te gee. Dis ‘n klein gebaar van omgee wat ons hoop ander sal aanspoor om ook in hulle gemeenskap uit te kyk en uit te reik na mekaar, maar dalk gaan #JouMenseMyMense selfs meer oor die geleentheid wat die gebaar vir ons moontlik maak om vir ‘n oomblik saam met hierdie mamma op haar bank te sit, saam te bid vir ‘n deurbraak, oor die inspraak en ‘n bietjie aansporing as die moedeloosheid mens dalk juis vandag wou kom oorweldig en ‘n tasbare manier om vir iemand te sê en te wys – die Here sien jou en jou kinders raak…

#LuisterWeer hier:

Vir al die fotos volg die skakel: #JouMenseMyMense saam met SPAR – Anonieme tannie se kosskenking

Deel hierdie artikel

Leave a Reply