You are currently viewing #JouMenseMyMense – ‘n Spesiale Meiring verjaarsdag – 05 November 2019

#JouMenseMyMense – ‘n Spesiale Meiring verjaarsdag – 05 November 2019

Deel hierdie artikel

Mauritz Meiring was ‘n hardwerkende gesinsman wat alles in sy vermoë gedoen het om sy vrou, Salomé en twee kinders, Derek (18) en Christelle (15) in alle opgesigte te ondersteun. In 2018 het hy eers sy been by die werk gebreek, toe gangrene in sy linkervoet gekry en later moes sy linkerbeen as gevolg van ‘n groot bloedklont net bo die knie geamputeer word. Hy het sy werk verloor, maar dadelik roomys-ysies van die huis af begin verkoop en naweke, ten spyte van ‘n lomp rolstoel al sy aflewerings gedoen. Salomé se salaris van R5000 was nie genoeg vir hulle gesin se behoeftes nie en almal het ingespring om te help. Tydens die Junie vakansie het Derek saam met sy pa gewerk en Christelle saam met haar ma. Tot die aand van die 15de Julie toe Mauritz so ongeveer 20:30 by die huis gekom het en skielik dood is aan ‘n hartaanval. Dit het hierdie baie hegte gesin geweldig geruk. “Ek probeer my bes om my twee wonderlike kinders gelukkig en veilig te hou. Die verlange is erg en dis baie moeilik sonder ons Pappa, maar Boetie en Sussie staan my ongelooflik by. Ons dank die Vader vir elke dag wat Hy ons spaar vir nog ‘n dag, met ‘n dak oor ons kop en kos om te eet en dan die belangrikste vir die liefde wat ons het in die huis wat Pappa ons geleer het,” sê Salomé. Haar whatsapp status sê steeds: “My man ek mis jou ongelooflik baie… lief jou nog ontsettend baie.” Een vir een breek die eerstes aan sonder hulle pa… Derek se 18de verjaarsdag was op die 24ste Oktober en Christelle se 15de verjaarsdag vandag. Ons wou graag hierdie dag vir hulle gesin so klein bietjie beter probeer maak… Nie Derek of Christelle het vanoggend ‘n vraestel geskryf nie en so het Christelle se verjaarsdag met ‘n heerlike ontbyt saam met haar ma en ouboet by die pragtige, Diep in die berg begin. Ons span het met Salomé afgespreek om haar en die kinders gou daar te kom ontmoet om vir Diep in die berg dankie te kan sê, maar min het sy of haar kinders geweet van die ander verrassings wat vir hulle sou volg met ‘n groepie dames wat by die tafel langs hulle gesit het… Die organisasie, ORCA staan diensbaar gereed om God se goeie nuus na gemeenskappe te versprei en om die lewenskwaliteit van diegene wat dit die nodigste het, te verbeter sodat hulle nooit Hoop sal verloor nie. Engela Wissing van ORCA het vir Derek, Christelle en Salomé elkeen ‘n geskenkbewys van R1000 gegee, ‘n R2000 geskenkbewys by ‘n winkelsentrum vir klere en/of skryfbehoeftes, ‘n R5000 SPAR geskenkkaart vir kruideniersware en toe R10 000 vir Derek se gereedskapkis wat hy nodig het vir sy studies by Soltech volgende jaar. Hy volg in sy pa se voetspore en werk nou reeds naweke en vakansies om geld bymekaar te maak vir sy bestuurslisensie wat hy nodig het. Salomé se gebed was vir ‘n wonderwerk om haar kinders se verjaarsdae spesiaal te maak en toe het sommer ‘n hele span mense gehelp om wonderlike geskenke ter waarde van meer as R20 000 vir hulle gesin moontlik te maak! “Baie, baie dankie! Ek waardeer dit uit die diepte van my hart. Ek sal enigiets doen net om ‘n glimlag op my kinders se gesigte te sien…” En tussen die drukkies en oor en oor dankies, kon ons verseker trane van blydskap sien…

Vir al die fotos volg die skakel: ‘n Spesiale Meiring verjaarsdag

Deel hierdie artikel

Leave a Reply