Ons het die afsluiting van 2019 se #JouMenseMyMense projek gevier met ‘n spesiale kersete saam met die 64 inwoners van Huis Phyllis Robertson! Hierdie Huis ontvang geen staatshulp vir die werk wat hulle doen om na elkeen van die gestremde persone met hulle spesiale behoeftes om te sien nie. Die liefde en omgee van hierdie groot familie groet jou sommer al by die voordeur as jy inkom en daarna volg die drukkies en vriendelike geselsies jou oral waar jy gaan… Die #GROOTontbyt- en leefstylsjef, Izelle Hoffman het al die vorige dag begin met die voorbereiding van die ete wat sy so saam met die Huis se kombuisspan gekook het. Sy is nie net lief vir kook nie, sy kook ook met liefde en glo ‘n goeie bord kos is soos ‘n drukkie – in hierdie geval nie net ‘n mooi en kleurvolle “drukkie” nie, maar ook smaaklik en feestelik! Dorinda het vir ons die muffins gebak wat sy verkoop om vir haar seuntjie te kan sorg na sy einde Oktober haar werk verloor het. Ons almal het ‘n paar kersliedere saam gesing en vir ekstra vrolikheid die muffins versier met lekkergoed. Een van die inwoners is 69-jarige Neelsie Boshoff wat al sedert 1977 by Phyllis Robertson Huis woon. Hy is lankal ‘n weeskind en sy broers en susters is ook almal pensioenarisse. Neelsie dra nog altyd self by tot sy losies, maar dit word toenemend moeiliker vir hom en sy broers en susters om sy rekening te kan dek. Neelsie is die vriendelike dowe man wat altyd by die Fruit Stop in Gezina met sy gebuigde rug jou trollie kar toe “gedans” het om met sy kenmerklike reuse glimlag jou goed in die kattebak te help laai. Die gemeenskap het vroeër vanjaar ingespring om vir hom ‘n elektriese rolstoel te koop en dit was deur daardie insameling wat ons van Neelsie gehoor het. Danksy ons vriende van Immunadue kon ons vir hom ‘n R15 000 bydrae maak tot sy losies. Ons is dankbaar vir ons vennoot, SPAR wat die bestanddele vir die ete geborg het, maar ook elke week reg deur die jaar bygedrae het om iemand se las so bietjie te help verlig, dankbaar vir Izelle se gawe wat sy so graag met ander deel en dankbaar vir Immunadue se geskenk vir Neelsie! Mag hierdie “seisoen van gee” ons inspireer om ons lewe te gee – om GROOT te gaan in die klein en om te leef met hierdie beginsel van God se mense – al sy mense – is my mense!
Vir al die fotos volg die skakel: Kersete vir Huis Phyllis Robertson – 26 November 2019
Deel hierdie artikel