#JouMenseMyMense saam met SPAR – Die gelykenis van die verlore seun
Op Woensdag, 24 Februarie 2021, het GROOTfm 90.5 saam met die span van B Loved Foundation en PEN, Alpha Pharm en Pharma Valu in die middestad gaan kuier. Die jong vroue wat ons by ‘n aangewese gebou ontmoet het, is slagoffers van mensehandel. Mishandel. Misbruik.
B loved foundation het vir hulle maaltye geneem. En, Alpha Pharm en Pharma Valu geskenkpakkies vol sanitere produkte wat insluit seep en lekkerruik-spuit.
Die hele oggend deur spoel die gelykenis van die verlore seun in my kop. En ek glo met my hele hart, net soos die pa waarvan die gelykenis vertel, het God nie van hulle vergeet nie. Hoe kan Hy? Hierdie jong vroue is gebore vir ‘n rede. Hulle is, net soos ek en jy, perfek geskape. Hy wag vir elkeen van hulle, en klop aan ‘n gekraakte deur. Een wat net Hy kan heelmaak. Hy wag vir hulle om Hom te vind, sodat Hy hulle gebroke gees en vlees kan genees. Sodat hulle kan sien wie hulle is in Christus Jesus, as ‘n perfekte geskapene. Hierdie dames, wat dalk nou in boeie van omstandighede en minderwaardigheid vasgeketting is.
Die dag begin met Wilna Buddy, beter bekend as ‘Mamma V’. ‘n Formidabele vrou met ‘n Dawidshart wat gekies is van 2005 af om met die vroue te werk, met hulle ‘n pad te stap, te ondersteun, lief te hê, en ten einde, te rehabiliteer sodat hulle hul stem terugkry om hul storie te vertel. Sy gesels met die jong dames, en gebruik die metafoor van ‘n glas bakkie wat val en breek. ‘There’s a place in your life where you are so shattered, that u cannot find the pieces’, sê Mamma V. ‘Maar God is die goud wat hierdie stukke weer aanmekaar kan las.’
Nadat Mamma V ons toespreek deel Kim en Ellen hulle getuienisse. Hulle was verlore, maar is nou opnuut gevind.
Ons gesels met Mamma V oor die pad wat sy stap met die vroue. Oor wat hulle grootste behoefte is. Sy vertel ons van ‘n veilige huis waar die vroue gerehabiliteer word. Want, sê sy, daar is een ding wat almal hier in gemeen het…Niemand van hulle het ‘n heenkome nie. Hierdie huis, geleë in ‘n veilige buurt in Pretoria, is meer as ‘n veilige hawe. Dis ‘n plek waar ‘n familie woon wat vir mekaar lief is, wat mekaar aanspreeklik hou. Mamma V en die dames het vyf maande om hierdie huis hulle eie te noem. Kom ons bid saam dat hierdie heenkome hulle heenkome sal bly.
Ons gesels met Ellen, voorheen bekend as Pinky, oor haar lewe – toe en nou.
Sommige van ons kan hierdie jong vroue maklik sien as ‘n verlore gemeenskap van verlore siele. Maar, met behulp van rolspelers en Sy onstuitbare plan vir hulle, vind hulle tog mekaar. Vind hulle tog verhouding. Vind hulle uit wat die eintlike waarheid en bekenisvolheid van hulle bestaan is. Kom ons wees die rolspelers wat hulle help om gevind te word. Sodat ons uiteindelik, die kalf kan spit en hulle tuiskoms kan vier.
Lukas 15:20 – ‘Die jongman het toe teruggegaan na sy pa se huis toe. Toe hy nog ’n hele ent van die huis af was, het sy pa hom herken. Hy was so bly dat hy dadelik na hom toe gehardloop het. Toe hy by sy seun kom, het hy hom omhels en hom gesoen van blydskap.’
#LuisterWeer hier:
Vir al die fotos klik hier: #JouMenseMyMense saam met SPAR – Verligting vir die Rautenbach-gesin
Deel hierdie artikel