#JouMenseMyMense saam met SPAR – GROOTfm 90.5 sê vir die teenstropingseenheid van die Nasionale Kruger Wildtuin DANKIE!
GROOTfm 90.5 se omroepers is uitgedaag om hul ‘droomuitsendings’ te identifiseer as deel van ‘n digitale strategie vir die stasie om veral op hul luisteraars en ondersteuners buite die Pretoria-omgewing – hul onmiddellike uitsaaigebied – te fokus, en tergelyktyd volhoubare vermaak te bly verskaf aan hul Gauteng-‘familie’.
Annelie Bouwer, omroeper van #BrunchMetAnnelie – weeksdae tussen 09:00 en 12:00 – het eerste gedroom van ‘n buiteuitsending in die Kruger Nasionale Park, Mpumalanga. Na ‘n paar gesprekke met Isaac Phaahla, hoof van kommunikasie en Bemarking, het hierdie droom vinnig ‘n realiteit geword. Hierdie ‘droomuitsending’ is moontlik gemaak, nie net deur die span van SANparke nie, maar deur ‘n borgskap van Immunadue, gewaardeerde kliënte en wildtuin-entoesiaste van GROOTfm 90.5. Die span was ineens om dit inlyn met Wêreld Omgewingsdag – gevier op Sondag, 5 Junie 2022, te vier.
Die GROOTfm 90.5-span het Woensdag, 1 Junie, die grense van Gauteng verlaat en bevind hulself die week in die Skukuza-ruskamp. Die GROOTfm 90.5-verkleurde bussie staan naby die winkel binne-in die Skukuza-ruskamp en saai regstreeks hiervan af uit vanaf 2 tot 3 Junie 2022, van 09:00 tot 12:00. Saterdag, 4 Junie, vind twee uitsendings plaas – van 06:00 tot 13:00. Nie net gaan #BrunchMetAnnelie daagliks uitgesaai word nie, maar die gewilde geselsprogram, ‘Kom Ons Praat Daaroor’, waar ‘n paneel van vier omroepers relevante kwessies aanspreek – in diepte, in kombinasie met ‘n paar tong-in-die-kies-oomblikke! Omroepers, buiten Annelie Bouwer, wat die week betrokke is by die uitsendings sluit in Francois Botha, Jacques Erasmus, Anelma Meiring en Sonet Stofberg. Arie Claassen, bekwame tegniese bestuurder is ook ‘hands-on’ betrokke, letterlik!
Inhoudsgesprekke oor natuurbewaring, en in spesifiek praktyke in en om die wildtuin, gaan in hierdie tydperk gevoer word. Van gesprekke oor die teenstropingseenheid en olifant bevolkings-bestuur, tot toerisme-aantreklikhede en -aktiwiteite, en ‘n wetenskaplike benadering tot biodiversiteit-bestuur.
As deel van die #JouMenseMyMense-uitsending Donderdag tydens #BrunchMetAnnelie, wanneer die teenstropingseenheid kom gesels, gaan GROOTfm 90.5 met behulp van skenkings en donasies deur luisteraars vanuit Pretoria tot en met die Komati-Voortrekker commando en Oasis Water Komatipoort, 400 ‘dankie sê’-pakkies uitdeel – vir die onbaatsugtige, lewensbedreigende werk wat lede van die eenheid elke dag ten bate van ons heerlike, biodiverse erfenis doen.
GROOTfm 90.5 maak ook ‘n skenking van R10 000 ten bate van die eenheid, sodat hulle bemagtig sal bly om ons biodiversiteit te bly bewaar. Baie dankie aan elke lid van hierdie eenheid wat daagliks hulle lewe waag sodat ons kinders die voorreg wat ons het om onder andere ‘n renoster in die wild te sien, ook te kan geniet.
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/