You are currently viewing #JouMenseMyMense saam met SPAR – Dankie, CHOC!

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Dankie, CHOC!

Deel hierdie artikel

#JouMenseMyMense saam met SPAR – Dankie, CHOC!

Ons fokus op Internasionale Kinderkanker Dag, wat 15 Februarie herdenk is, en GROOTfm 90.5 het gaan inloer by die CHOC huis (CHOC Childhood Cancer Foundation SA). ‘n Veilige vesting vir kinders en hul ouers wat kanker behandeling ondergaan, en nie die finansies of ondersteuning het terwyl hulle hierdie oorwinningspad loop nie. Ons het gesels met Shanil Mangaroo van die Vodacom Bulls, Belinda Austin, ‘n verpleegster in Unitas se paediatriese onkologie-saal met ‘n besonderse storie, Rosanna Strydom, ‘n mamma van ‘n SURVIVOR, en Ina Schomper, streeksbestuurder van CHOC Noordelike Streek.

Daar is tans landwyd 1736 kinders in die sorg van CHOC, 1435 families wat berading en sielkundige ondersteuning ontvang, en 32 448 wat oornag-geleenthede ontvang. Die CHOC huise voorsien nie net ‘n fisiese fasiliteit vir kinders, tieners en ouers wat verblyf verlang nie, maar etes en die nodige ondersteuning en stabiliteit in ‘n baie onseker tyd.

Ons bring hulde aan elke vrywilliger en personeellid – by die CHOC huis en paediatriese onkologie-eenheid. Ons sê dankie aan elke hart en hand wat ‘n ondenkbare ervaring en hoofstuk, leefbaar maak. Wat hoop en liefde en ondersteuning bied, ten spyte van dit waardeur jy self gaan. Wat onvoorwaardelik lewe en saai, en die verganklike Ewigheidswaarde gee. 

Ons sê dankie met behulp van kolwyntjies vir almal wat hierdie dag saam met ons gevier het. Met behulp van R4 000 se kruideniersware, wat die CHOC huis toerus vir die gesinne wat dit so broodnodig het. En laastens, met behulp van Ecomed Medical wat R10 000 geskenk het ten bate van CHOC (wat ook tydens die inperking nie kon voortgaan met hul jaarlikse fondsinsamelings nie).

Mag ons nooit skuldig voel oor die pak kaarte wat aan ons gegee is nie…’n Pak kaarte met bietjie meer ‘Jokers’ as ander…maar, mag ‘n ander se pak kaarte ons help en inspireer om nooit ons fokus op die groter prentjie te verloor nie. Mag ‘n ander se verhaal en pak kaarte ons perspektief vergroot en verbreed terwyl ons almal eer wie se kaarte bietjie anders lyk. Mag liefde oorheers, saam met genade, sagmoedigheid en meelewendheid. Mag ons bewus wees van die talle geleenthede waarmee ons daagliks gekonfronteer word om ‘n verskil te maak. Mag elke kaartspel in oorwinning eindig, en mag ons as gelowiges die voorreg omhels om nooit ‘n ‘deadline’ te beleef nie, maar, ‘n onveranderende ‘lifeline’.

Besoek choc.org.za/ vir meer inligting. En ondersteun hulle Vrydag, 18 Februarie 2022 met ‘Flip Flop’ dag. Koop jou plakkers teen R10 elk, en dra jou plakkies om hierdie kinders, tieners en hul families te wys dat hul nie alleen is nie!

 Fotos: Jislaaik-JA! Photography

Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/

Luister weer HIER:

Deel hierdie artikel

Leave a Reply