#JouMenseMyMense saam met SPAR – Wanneer die berge blou bly
Chantelle het vir ons ‘n epos gestuur en vir ons gevra om haar sussie, Caroline en haar man, Henry te help. Hulle kry bitter swaar. Hulle woon aan die voetpunt van die Magaliesberg, en kyk gereeld op om te kyk waar hulle hulp vandaan kom. Hulle weet hierdie is nie die lewe wat die Here vir hulle wil hê nie.
Henry is ‘n trok drywer en het sy werk ongeveer 6 maande terug verloor. Sy vrou, Caroline het huise skoongemaak om te help met ‘n inkomste. Saam met hulle woon Henry se twee seuns, en Caroline se dogter en seun – almal van wie nog in die laerskool is. Kameeldrif-wes Laerskool is loopafstand van hul 10 by 10 m houthuisie op ‘n plot uit op Van Der Hoff-weg, rigting Brits.
Hulle deel hierdie perseel met ‘n paar ander gesinne wat ook ‘n beperkte of geen inkomste het nie. Die laaste ding wat die gesin geëet het is een snytjie brood elk. Hierdie gesin het minder as niks, maar, hulle het mekaar. Die huisie raak tans bietjie klein, met hulle oudste dogter (14) wat ‘n vertrek met haar drie broers deel. Henry is dringend opsoek na werk, en sê hy sal enigiets doen om te kan sorg vir sy gesin. Toe ons daar gekuier het, het hy afgekyk na sy hande, en gesê:’Hierdie hande mekeer niks!’
Chocolate en Snowy is hulle honde, vir wie hulle baie lief is. Toe ons ‘n kruidenierslysie saamstel, was die eerste ding wat boetie Justin gesê het ons kan saambring, hondekos. Hulle het nie geld vir gas nie, en maak pap gaar op ‘n oop vuur. Die fasiliteit is toegerus met sonpanele, en het hulle gelukkig toegang tot warm water. As gevolg van beide ouers wat tans geen inkomste kan verdien nie, het hulle agter geraak met hulle huur, wat R2 000 ‘n maand is.
GROOTfm 90.5 kon met behulp van donasies hulle agterstallige huur vereffen, en verligting bring tot en met Desembermaand. Hulle kan vir drie maande asemhaal. Ons kon ook, met behulp van Superspar Morelettapark vir hulle kruideniersware koop ter waarde van R2 000. Toe ons terugkom van Superspar Moreletta af het die kinders vir ons elkeen ‘n briefie saam met ‘n geskenkde teddiebeer in ‘n geskenkde geskenkpakkie gereed gehad, en dit met soveel liefde oorhandig. Ons harte het tergelyke tyd gesmelt, en gebreek.
Dit was ‘n goeie kuier saam met die gesin. Ons het gehuil, maar ons het ook gelag. Ons het die kinders vasgehou en ‘n paar van die bure ontmoet. Ons het die voorreg gehad om vir hulle te bid en hulle te bemoedig met die Woord se waarheid oor hulle lewe. Ons kan met oortuiging getuig, dat alhoewel hierdie gesin niks het nie, hulle liefde het. Saam met die gemeenskap wat hulle al op die plot geskep en gevorm het, kyk hulle mooi na mekaar.
Liewe Henry en Caroline, en julle vier pragtige kinders! Ons bid dat Hy julle geestesoë sal verhelder, sodat julle nie net die hoop sal raaksien wat Sy roeping inhou vir julle nie, maar, dat wanneer julle weer opkyk na die berg en wonder waarvandaan julle hulp kom, julle hierdie hulp, saam met Sy guns, genade en liefde sal raaksien!
Fotos: Jislaai-JA! Photography
Om betrokke te raak by #JouMenseMyMense, klik hier: https://www.grootfm.co.za/raak-betrokke/
Luister weer HIER: