GROOT Plaas boer voerentoe…
Die GROOT-span is opgewonde om die nuus bekend te maak dat optimale opbrengste in die nuwe seisoen verwag word, nie net in saai-gewasse nie, maar in die uitsaai-geweste. Mia Slabbert is vanaf April 2022 te sien op kykNET kanaal 144 in haar hoedanigheid as die nuwe aanbieder van GROOT Plaas, weeksdae vanaf 05:30 tot 06:00. Sy gaan ook nou en dan haar verskyning op Die GROOT Ontbyt maak wat daagliks na GROOT Plaas in die kykNET-programskedule vervat word.
Mia Slabbert is ‘n gesoute joernalis, en het haar loopbaan by Beeld-koerant begin waar sy aktualiteit-etiket as ’n misdaad-verslaggewer opgedoen het. Daarna het sy die koerantwese met die televisie-skerm vervang en saam met onder meer, Freek Robinson, eNuus op kykNET begin. Mia het vir sowat vier jaar as veld-joernalis gewerk waar sy aktief deel van die satelliet-span in die Pretoria-kantoor was. Hier het sy, buiten haar joernalis-vernuf en inhoud-skrywe, ook multimedia, redaksie, klankgreep-opnames, onderhoude en ateljee-werk behartig.
Mia is in 2010 deur die Nasionale Persklub as kategoriewenner aangewys. Sy het haar BA (Tale) aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en na die geboorte van haar eerste seun het sy die lang ure vir ’n pos by GROOTfm 90.5 verruil om hier as joernalis te werk. In hierdie tyd was sy een van die enkele joernaliste wat direk vanuit die Pretoria Hooggeregshof oor die Oscar Pistorius-saak verslag gedoen het.
Sy was ook in die begin jare van Die GROOT Ontbyt deel van die span. Na die geboorte van haar tweede seun het
Mia die wêreld van liefdadigheid betree en in die middestad van Pretoria gewerk. Sy het na haar werk in liefdadigheid by Solidariteit aangesluit en ook ‘n Youtube-kanaal begin, “Op Reis Saam Met Mia” – waar sy aktuele-, sosiale- en regs uitsprake aan die publiek vertel het.
Haar persoonlike aanslag, opregtheid en aansteeklike opgewondenheid verseker dat die mense waarmee sy onderhoude doen op hul beste voet is en hulle egte stories kan vertel. Mia het ‘n passie vir die vertel van stories, en sien uit daarna om haar ervarings en unieke aanslag om die regte informasie uit die regte mense te kry om sodoende aktualiteit-sake in ‘n gemaklike bespreking aan die kyker voor te lê.
“In al my jare se ondervinding is daar iets van om stories op die televisie te vertel wat net nog nooit sy greep van my losgemaak het nie. Dit gee vir ‘n mens die geleentheid om jou opwinding en passie en informasie gelyktydig direk oor te dra in iemand se sitkamer, in iemand se lewe. Dit bly ‘n voorreg om in die verband deel van gesinne se lewens te wees.”
Oor GROOT Plaas het sy die volgende te sê: “Boerdery raak ons almal en is ‘n reuse bousteen van ons ekonomie. Die moderne boer moet nie net sy erfenis kennis van veekunde, landboukunde en verdere tegniese kennis hê nie, maar moet in vandag se wêreld ook ‘n politikus, bestuurder, ekonoom en uitmuntende besigheidsman wees wat kan netwerk en opstaan vir sy regte – ons regte. Die kompleksiteit van, vanaf grond analise tot subsidies en lewering aan die voedselketting is ‘n komplekse wêreld en verdien lugtyd om boere se aktuele sake aan te voer waar kenners die uitdagings ontrafel vir ons kykers.”
Sy sê verder, “Ek sien uit om met ‘n vars aanslag ‘n platvorm te skep waar boerdery absoluut in die kollig is, want hulle verdien die kollig. Ons elkeen moet snags dankie sê vir ‘n boer en in dié rol hoop ek om my dank op ‘n baie spesiale en besonderse manier oor te dra.”
Mia gaan GROOT Plaas ‘n ware, vars tuiste vir boere maak, en kan ons kykers en span uitsien daarna om elke oggend vars te begin!
Kom boer saam!
Deel hierdie artikel